Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma van 1-jarige soek antwoorde ná jong pa sterf

“Ek wil net antwoorde hê,” is die woorde van ’n gebroke jong vrou van Worcester in die Wes-Kaap wat Woensdag haar eksverloofde, en die pa van haar eenjarige dogtertjie aan die dood afgestaan het.

Ruben Reynolds (24) is Woensdag in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad dood nadat hy Sondagnag in Ceres skynbaar oor die kop geslaan is en in die hospitaal breindood verklaar is.

Marike Wilson (19), wat voorheen aan Reynolds verloof was, sê die asemhalingsmasjiene is Woensdag afgeskakel.

Wie Reynolds Sondagaand na die hospitaal geneem het en hoe sy besittings by die polisie in Ceres beland het, is nog duister vir dié na aan hom. Nie Wilson of enige van Reynolds se vriende was by hom toe hy aangerand is nie. Wilson kon nog niemand opspoor wat lig op die saak kan werp nie.

Marike Wilson (19), Mia (een jaar en vyf maande) en Ruben Reynolds (24) Foto: Facebook

Wilson sê sy twyfel of die gerugte dat Reynolds Sondagaand in ’n kroeggeveg betrokke was en tóé die ernstige kopwond opgedoen het die waarheid is.

“Ruben was ’n vragmotorbestuurder en hy het die naweek in Ceres gewerk. Hy ken niemand daar nie, so hy sou nie in ’n kroeg gaan kuier het nie,” sê Wilson.

“Al wat ons weet, is iemand het hom gekry en na Ceres se provinsiale hospitaal geneem en toe is hy vroeg Sondagoggend oorgeplaas na die Tygerberg-hospitaal se noodeenheid.”

Ruben ReynoldsFoto: Facebook

Wilson sê die dokters het Reynolds Dinsdagoggend breindood verklaar. Sy was Woensdag saam met Marcelle Reynolds, sy ma, by die hospitaal toe die masjiene afgeskakel is.

Die polisie op Ceres ondersoek ’n saak van moord, het lt.kol. Andrè Traut Vrydag bevestig. Niemand is nog in verband hiermee in hegtenis geneem nie.

“Ek wil net weet hoekom? Hoekom moes hy op so ’n manier sterf? Niemand verdien dit om op so ’n aaklige manier dood te gaan nie,” sê Wilson.

“Ek wens ons het geweet wat met hom gebeur het. Wat so vreemd is, is dat niks van sy goed gesteel is nie. Alles is net so by die polisie ingehandig – sy selfoon, beursie, klere, als. Niks is gesteel nie.”

Wilson sê die mense wat Reynolds na die hospitaal geneem het, het verkies om anoniem te bly. Hulle het sy naam op die vorms verkeerd ingevul, maar darem sy van en geboortedatum reg gehad.

“Ons het geen idee wie die mense is nie. Ek wens hulle wil na die polisie toe gaan en sê wat hulle weet. Ons wil net die waarheid uitvind,” sê Wilson.

Sy sê sy het nog Sondagmiddag met Reynolds op die telefoon gepraat en hy het gesê hy sal later terugbel om vir haar en hul dogtertjie, Mia (een jaar en vyf maande) nag te sê.

“Ek het nooit weer van hom gehoor nie,” sê sy.

Talle mense het boodskappe en foto’s van Ruben op Facebook geplaas en gesê hy was iemand wat baie omgegee het vir sy familie, vriende en veral sy dogtertjie.

“Ek is so jammer dat Miatjie sonder haar pappa moet grootword,” skryf een vriendin op Facebook. “Maar ons weet haar mamma sal mooi vir haar van haar pappa vertel. Sy is so ’n mooi dogtertjie met haar potblou oë.”

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie op Ceres by 023 316 8600 of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 skakel.

Meer oor:  Ruben Reynolds  |  Worcester
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.