Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma van 6-jarige met tatoe is tuis

Die ouers van ’n sesjarige dogter wat vroeër die week nog soos kat en hond baklei het nadat die pa toegelaat het dat die kind ’n tatoeëermerk op haar arm kry, is nou weer versoen.

Die tatoe op die sesjarige kind se arm is glo van haar ouers se voorletters.

Pa het Donderdag vir Ma in Pretoria gaan haal en hulle is nou terug in die gesinshuis in eMalahleni (Witbank). Die egpaar was twee maande vervreem.

Die paartjie se stormagtige huwelik het vroeër die week die aandag getrek toe Ma ’n tatoeëerkunstenaar van eMalahleni op Facebook van onprofessionele gedrag beskuldig omdat hulle die letters “A+N” – die ouers se voorletters – op die meisietjie se arm getatoeëer het. Pa en Ma word nie geïdentifiseer nie om hul dogtertjie se identiteit te beskerm.

Die eienaar van die tatoeëer­salon het daarna verwoed teruggekap en gesê dis Pa self – en nie sy nie – wat sy dogter se arm getatoeëer het.

Ek wou ’n oplossing bied, maar Bernice het uitbasuin dat ek agter geld aan is.

In ’n inskrywing op die salon se Facebook-blad (waarmee daar wyd die spot gedryf is weens haar afgryslike spelvermoë), skryf Bernice Jacobs, die 23-jarige eienaar van die salon: “nou lyster jule vir my baie mooi . . . jule kan ook elke stukie k*k glo wat jule sien . . . is reg . . . beswader my naam . . . beskildag my . . . bedrieg my . . . ek weet wat is die waarheid . . . wys jou marnet . . . die low mind asteam van mense . . . jule sal nie eers my kant van die storie vra nie . . . neeeee mar gan an is reg ekt klaar n prokereer en ek vat haar hoff toe maandag . . . soo ja ek warry nie oor die res nie . . . lekker dag veder” (sic).

Jacobs het die afgelope week aan Rapport bevestig dat sy toe ’n “prokereer” gekry het om haar te beskerm teen Ma wat haar so “beswader” en “beskildag”.

Jacobs sê sy was besig om Pa se arm te tatoeëer – wat, volgens haar, dronk was, en het die vertrek vir ’n paar oomblikke verlaat toe hy die apparaat geneem het en self die letters op sy dogter se arm aangebring het.

“Hy het my tatoeëergeweer se punt gebreek. Dit lyk of hy hom laat val het,” sê Jacobs.

Pa het aanvanklik geweier om op Rapport se navrae te reageer en bloot geantwoord dat dit “sy kind is” en die kwessie niks met die koerant te doen het nie.

Vrydag het hy heelwat kalmer gereageer, maar steeds volgehou dat Jacobs die tatoeëerwerk gedoen het en nie hy nie.

“Toe ek weer sien, het sy (Jacobs) dit klaar gedoen. Sy het gesê daar is nie ink in die tatoeëergeweer nie en ‘die ding gaan nie eens vat nie’.”

Ma sê toe sy verlede Vrydag van die tatoe deur ’n kennis verneem, was sy buite haarself.

“Ek was histeries, woedend. Toe ek my meisiekind bel, kon sy nie die vrou se naam onthou nie, maar sy het gesê ‘pappa het net my arm vasgehou’.” Sy sê haar dogter was nie getraumatiseerd of bang nie, maar het eerder gespog met haar tatoeëermerk.

Sy het toe die tatoe op haar Facebook-blad rugbaar gemaak en Bernice laat weet dat dit R1 500 gaan kos om die tatoe te verwyder. As sy vir die verwydering betaal, sal sy die inskrywings op haar Facebook-blad verwyder.

“Ek wou ’n oplossing bied, maar Bernice het uitbasuin dat ek agter geld aan is,” sê sy.

Dit blyk egter asof die hele kwessie ten minste vir Ma en Pa gedwing het om weer met mekaar te praat nadat hulle in Desember uitmekaar is. Die egpaar het drie kinders: twee seuns van onderskeidelik 19 en vyf en die meisie van ses.

Ma het Woensdag ’n afspraak met Rapport gekanselleer met die boodskap: “Hierdie ding gaan nou te ver en my kinders ly daaronder. Ek en (Pa) het besluit dit sal beter wees as ek teruggaan Witbank toe . . . Die kidz se belange kom eerste.”

Meer oor:  Bernice Jacobs  |  Tatoeëermerk  |  Spelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.