Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma weet nog nie twee kinders sterf
Dr. Danie Brink in die Mediclinic in Welkom ná die ongeluk. Foto: Deon Raath
Dr. Danie Brink (47), uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en sy gesin. Van links is Mieke (15) en Daniël (2) op haar heup, asook sy vrou, Lise (42), agter. Voor is Johann (9), Rachel (8) en André (13). Rachel en André is in die ongeluk dood.
Die wrak van dr. Danie Brink van Solidariteit se gesinskar Foto Netcare 911.

‘Ek weet nie of ek al ooit ’n dooie mens gesien het nie, maar ek kon sien hulle is dood,” het ’n verslae dr. Danie Brink gister gesê oor die ongeluk waarin twee van die gesin se vyf kinders dood is.

Die gesin van Brink (47), uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, en sy vrou, Lise, was van Pretoria na Kaap St. Francis in die Oos-Kaap op pad vir hul Kersvakansie toe hulle in die ongeluk betrokke was.

André (13) en Rachel (8) is op slag dood.

Lise is in die Mediclinic in Welkom met ernstige kaak-, mond- en kopbeserings. Haar linkerarm en -been is ook gebreek en haar knie is uit lit uit.

Hul oudste dogter, Mieke (15), is lig beseer. Die middelste seuntjie, Johann (9), het harsingskudding en steke in ’n sny aan sy kop.

Ag, sy was so normaal en spesiaal. ’n Regte klein poppie wat Barbie en make believe speel.

Hy was gister nog onder verdowing, maar is reeds oorgeskuif na ’n gewone saal.

Die jongste, Daniël (2), was vasgemaak in sy stoeltjie en het nie ’n skrapie nie.

Brink sê hulle het Donderdagmiddag uit Pretoria gery en in Theunissen in die Vrystaat oorgeslaap. Vrydagoggend het hulle weer in die pad geval en 20 km verder, op die R30 op pad na Brandfort, die ongeluk gemaak.

Hy vermoed die linkeragterband het gebars waarna hy beheer oor die Toyota Land Cruiser verloor en dit omgeslaan het.

“Ons is baie streng oor veiligheidsgordels. Nadat die kar van die pad af is en gerol het, het ek by die venster uitgekruip om almal te help. Mieke het toe reeds vir Daniël uit sy stoeltjie gehaal.

“Ek dink die impak aan die linkerkant, waar Lise, André en ­Rachel gesit het, was baie erger.

“Lise is ernstig, maar stabiel en onder verdowing.

“Sy moet kaakchirurgie in Pretoria kry, maar dis tans te veel van ’n risiko om haar te skuif.

“Daar is gelukkig nie bloeding op die brein nie en geen rede om te dink dat sy breinbeserings of -skade het nie.”

Die hele gesin het Vrydagaand in die hospitaal gebly vir waarneming, maar Danie, Mieke en ­Daniël is gister na ’n gastehuis waar hulle sal tuisgaan totdat Johan ontslaan is en Lise geskuif kan word. “ ’n Ou sukkel om te slaap. Ek hoor die hele tyd die geluide van die ongeluk. Lise weet nog nie van die kinders wat dood is nie.”

Dit is nie die eerste keer dat die gesin ’n kind aan die dood afstaan nie.

Terwyl hulle in Amerika gewoon het waar Brink besig was met sy doktorsgraad in wiskunde-onderwys aan die Universiteit van Georgia, is ’n dogtertjie, ­Louise, kort ná geboorte dood weens ’n nierprobleem.

Dit is vir hom baie hartseer dat hy en sy oudste seun nooit hul verhouding verder sal kan ontwikkel nie.

“Ons was op pad om beste vriende te word. Nie dat ons nie ’n goeie verhouding gehad het nie, maar hy was besig om groter te word.

“Hy het die lewe volspoed geleef,” sê Danie.

Rachel is gebore met ’n waterhofie en moes ’n dreinerings­pypie kry, maar het in haar kort lewe almal verbaas.

“Ag, sy was so normaal en spesiaal. ’n Regte klein poppie wat Barbie en make believe speel. Jog, ek kon haar dooddruk.”

Danie sê hy het nog nie eens gedink aan begrafnisreëlings nie.

“Lise moet eers gesond word. Dis nog te vroeg om die impak van dit alles te verwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.