Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Maak jou klein voor drie – soos Chessie . . .’

Chester Williams het homself klein gemaak as hy in die hoek oorduik vir ’n drie. Klein genoeg sodat teenstanders hom nie oor die kantlyn kon boender nie. Klein genoeg om hope drieë in die hoeke van rugbyvelde oor die wêreld heen te druk.

Maar die legendariese Springbokvleuel, wat in 1995 die Wêreldbeker-trofee vir die Bokke help wen het, was allesbehalwe klein.

Chester Williams, legendariese Springbok-vleuel, wat Vrydag oorlede is. Foto: Getty Images

Hy was groot. Nie net op die veld nie, maar ook van die veld af. ’n Man wat ’n diep en groot spoor getrap het – en die deur, skarnier en al, oopgeskop het vir baie rugbyspelers wat ná hom sou kom, veral dié uit agtergeblewe gemeenskappe. Danksy hom kon hulle nie net droom nie, maar ook glo dat drome werklikheid kan word. Almal wou eendag soos Chessie op die groen gras van Nuweland speel. Hulle wou die Groen-en-goud dra. Soos Chessie.

Jy, Chester, was elke vinnige bruin seun se eerste rugbyheld. Jy het ons almal laat droom, ons almal laat glo dat ons ook kan.

Ek onthou my eerste Curriebeker-wedstryd op Nuweland. Chester het in die hoekie aan die Jan Pickard-kant neffens die Spoorweg-paviljoen en reg voor ons skoolgroep oorgeduik vir een van sy kenmerkende hoekie-drieë. Ek onthou ook hoe my laerskool-rugbyafrigter op ’n keer vir my gesê het “trek jou kop in, maak jou klein soos Chester Williams” nadat ek in ’n wedstryd kort voor die doellyn by die kantlyn uitgeduik is.

Sy woorde het my bygebly en vorentoe sou ek my klein maak soos Chester en is ek nooit weer aan die kraag uitgeboender nie.

Vir die meeste van ons seuns het die droom om in ons held se voetspore te volg, natuurlik nooit waar geword nie. Maar vir talle ander het dit. Spelers soos Breyton Paulse, Ashwin Willemse en daarna ’n Bryan Habana en JP Pietersen. Ná Chessie het hulle seuns laat glo dat alles moontlik is. Maak nie saak of jy van die Paarl, Caledon of Ceres af kom nie, in watter skool jy was of wat die nering van jou ouers is nie – as jy jou klein hou op pad hoekvlag toe soos Chester, kan jy dit ook groot maak in rugby.

Ons groet jou, Chester. Met ’n traan, maar ook met ’n glimlag – een van daai groot, breë, kenmerkende Chester-glimlagte. En ’n dankie vir die deure wat jy vir ons oopgemaak het.

* Leighton Koopman is ’n sportskrywer vir Rapport.

Meer oor:  Chester Williams  |  Springbok  |  Rugbyspeler  |  Hartaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.