Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Maak leraars noodsaaklik, sê kerke – ‘mense het vrae’

Verskeie kerkgroepe het ’n pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig om kerkbyeenkomste te mag hou waar die nodige afstand gehandhaaf word en om predikante toe te laat om pastorale berading te bied.

Lidmate van die NG gemeente Van Zylsrus verpak kos saam met lidmate van El-Shaddai en amptenare van die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Noord-Kaap. Foto: Frans Cloete

“Ingevolge die regering se bestaande regulasies word godsdienstige byeenkomste in dieselfde kategorie geplaas as nagklubs en sportbyeenkomste,” sê Michael Swain van Freedom of Religion SA (For SA), ’n drukgroep wat hom beywer vir die reg tot godsdiensvryheid. “Dit beteken dat godsdiensbyeenkomste net soos sportbyeenkomste eers sal kan plaasvind sodra die regering besluit dat daar geen verdere gevaar is vir besmetting nie of totdat ’n entstof ontwikkel en vrylik beskikbaar is.”

Ds. Cassie Aucamp, voorsitter van die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA) se deputasie vir owerheid, sê dis kommerwekkend dat godsdiensbyeenkomste nie eens op vlak 1 van die inperkings toegelaat word nie. “As die kerke se opbouende en helende werk in ons gemeenskap vir so ’n lang tyd beperk word, sal dit ’n vernietigende effek op die geestelike welstand van Suid-Afrikaners hê en dit sal die morele kompas ontspoor.”

Aucamp sê hulle het reeds ’n versoek tot die regering gerig dat ’n maksimum van tien persone per gemeente op ’n Sondag toegelaat word om bymekaar te kom en om pastorale berading deur ’n predikant as ’n noodsaaklike diens te erken.

‘ ’n Nuwe energie het in baie gemeentes losgekom.’

“Ons het nog geen reaksie op ons versoeke gekry nie.”

Dr. Wouter van Wyk, sekretaris van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) se kommunikasiekommissie, sê kerkleiers het Ramaphosa op ’n vergadering op 19 Maart eenparig ondersteun. “Regulasies is sedertdien eensydig ingestel sonder dat ons enigsins hierin geken is.”

Benewens eredienste wil dié kerk hê predikante moet mense op klein troues in die huwelik kan bevestig.

“Baie paartjies wat beplan het om te trou, kan dit nou nie doen nie en dit is vir hulle ’n ernstige eksistensiële ding.”

Daar is ook erge druk op leraars.

“Van die predikante raak angstig omdat hulle onseker is of gemeentes in staat gaan wees om hulle heeltyds in diens te kan hou,” sê dr. André Bartlett, voorsitter van die moderatuur van die NG Kerk se Hoëveld-sinode.

“Die nuwe eise wat aan die bediening gestel word, plaas groot druk op predikante en laat hulle soms oorwerk voel.”

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk, beaam dit. “Mense het vrae oor die sin en betekenis van die pandemie. Hulle worstel om hul verliese te verwerk. Predikante kan nie hiervoor net ’n vinnige aksieplannetjie gee nie. Om ander mense se lyding te help dra terwyl jyself in finansiële en ook emosionele en geestelike onsekerheid gedompel is, is nie maklik nie.”

Hy sê die kerk vra nie vir spesiale behandeling nie, maar verwag dat gemeentes kan heropen soos maatreëls in die algemeen verslap word.

Dr. Barry Tolmay van die Sinode KwaZulu-Natal sê van die groot uitdagings is dat leraars nie by ’n sterfbed kan wees nie, sterwensbegeleiding kan doen nie en almal nie begrafnisse kan bywoon nie.

Dr. Llewellyn MacMaster, voorsitter van die Sinode Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA), sê predikante se grootste vrese is hoe langer die inperking aanhou hoe groter is die impak op die finansies. Die meeste gemeentes het nie reserwegeld wat hulle deur die volgende maande kan dra nie – wat bydra tot die lae moreel. Volgens hom is vertoë tot die regering gerig om predikante as noodsaaklike werkers te klassifiseer.

Eerw. Godfrey Cunningham, president van die Morawiese Kerk in Suid-Afrika, sê hul inkomste vir Maart het met 15,34% afgeneem en in April met 36%.

Hulle het ook by die Werkloosheidsversekeringsfonds om hulp aangeklop.

Hy en ander kerkleiers is wel opgewonde oor die kreatiewe maniere waarop gemeentes bedrywig is en die nood in hul gemeenskappe help verlig.

“ ’n Nuwe energie het in baie gemeentes losgekom, spesifiek om die nood van hul medemens raak te sien,” sê ds. Danie Mouton, uitvoerende direkteur van die NG Sinode Oos-Kaap.

Dr. Pieter van Jaarsveld sê sy gemeente, die NGK Bothaville, is al ver gevorder om ’n drive-through-basaar te reël.

Van Jaarsveld, ook Vrystaatse NG moderator, sê hul gemeentes werk saam met die NG Kerk in Afrika en die VGKSA om mense in nood te help. “Op dié manier het ons nou ’n band gebou soos ons nog nooit gehad het nie.”

McMaster sê preke wat aanlyn gelewer word, word wyd versprei, ook oorsee. Maar, sê ds. Mossie Mostert van die NG Kerk se Sinodale Kantoor in die Noord-Kaap, sosiale media is maar net nie dieselfde nie. Datakoste, internetspoed en swak selfoonseine in sekere gebiede bied ’n bykomende uitdaging.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.