Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Maak reg vir vyf jaar se beurtkrag’

Ontwerpfoute by die land se twee grootste kragsentrales is so omvangryk dat die land nog vir jare onder beurtkrag gebuk sal gaan voordat die kragsentrales uiteindelik die elektrisiteit lewer waarvoor hulle ontwerp is.

Die Kusile-kragsentrale. Foto: Getty Images

Eskom se nuwe uitvoerende hoof, André de Ruyter, het die afgelope week aan die parlement gesê dié werk sal eers in Augustus 2022 voltooi wees.

Dit is amper 12 maande langer as die aanvanklik geraamde 18 maande, maar ’n energiekenner meen dat selfs dié teiken gans te optimisties is.

“Ek dink dit kan tot vyf jaar duur voordat ons weer ’n stabiele netwerk sal hê,” het die ingenieur en energiekenner Mike Rossouw die afgelope week aan Rapport gesê.

Hy is boonop bekommerd dat daar nie genoeg leierskapsvaardighede binne Eskom is om die projekte te bestuur nie.

“Die energie-beskikbaarheidsfaktor (die getal opwekkingseenhede in werkende toestand) neem al jare lank jaar ná jaar af. Dit is vanjaar swakker as ooit. Slegte gewoontes het die norm geword. Om dit te verander, gaan moeilik wees en lank duur,” sê Rossouw, wat in 2015 ’n omvattende oudit na die toestand van Eskom se kragsentrales gedoen het.

‘Dit kan tot vyf jaar duur voordat ons weer ’n stabiele netwerk sal hê.’

Hy het bevind dat 4 700 hoofkomponente by die land se 13 groot steenkoolkragsentrales dringende onderhoud kort of vervang moet word.

De Ruyter en Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, sê tot tyd en wyl al die eenhede herstel is, sal beplande beurtkrag nodig wees, waarvoor De Ruyter vroeg in Maart ’n program aan Eskom se direksie gaan voorlê. Ná dié tydperk sal die land se kragnetwerk weer stabiel wees, sê hulle – ’n uitspraak wat Rossouw beskryf as ooroptimisties.

Dat Kusile en Medupi, die land se grootste kragsentrales, ernstige ontwerpfoute het, is welbekend, maar De Ruyter het dié week geen doekies omgedraai oor die prys wat die land gaan betaal om dit reg te stel nie.

Elkeen van die 12 drukketels by Medupi (naby Lephalale) en Kusile (naby Emalahleni) moet met 12,5 m hoër gemaak word om die temperatuur van die uitlaatstoom voldoende te verlaag sodat dit weer in die stelsel ingevoer kan word. Die drukketels is reeds 130 m hoog, maar die temperatuur van die uitlaatstoom is 128 °Celsius.

“Dit is te warm en beskadig die uitlaat-toerusting. Daarom kan ons nie die eenhede ten volle gebruik nie,” het De Ruyter aan parlementariërs verduidelik.

Dit beteken dat elkeen van die 12 opwekkingseenhede by die twee sentrales, wat elk 800 MW elektrisiteit aan die nasionale netwerk lewer, vir 75 dae afgeskakel sal moet word om die bouwerk te doen.

Die eerste daarvan, eenheid 3 van Medupi, is reeds op 25 Januarie uit bedryf gehaal om die werk te doen en sal eers weer ná 9 April in bedryf kom, volgens ’n herstelprogram wat De Ruyter Dinsdag aan die parlement voorgelê het.

Konstruksie aan Medupi het reeds in Augustus 2007 begin. Die laaste eenheid sou in 2015 klaar wees, waarna die kragsentrale 4 800 MW elektrisiteit sou lewer (sowat 18% van Suid-Afrika se huidige beskikbare vermoë).

Dit lyk nou asof dit eers in Julie 2021 ten volle in bedryf sal wees.

Werk aan Kusile het in Augustus 2008 begin en die laaste eenheid sou in 2017 aangeskakel word. Dit sal nou eers in Augustus 2022 klaar wees, volgens De Ruyter se program.

“Ons maak nie net die drukketels hoër nie, maar maak ook foute reg aan die steenkoolmeulens en die toerusting waarmee steenkool hanteer word,” het De Ruyter aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) gesê.

Die vervoerband wat steenkool van die Grootegeluk-myn na Medupi voer, het verlede jaar gebreek, die kragsentrale sonder steenkool gelaat en die land vir die eerste keer in fase 6-beurtkrag gedompel.

“Ek het die hele voerband self ondersoek en seker gemaak dat ons voldoende alternatiewe beskikbaar het sodat so iets nie weer sal gebeur nie,” het De Ruyter aan die komitee gesê.

Rossouw sê dit alles wys dat daar nie naastenby genoeg voorbereidende ingenieurswerk gedoen is in die ontwerp en beplanning van die twee kragsentrales nie.

Rossouw verduidelik dat sowel Medupi as Kusile lugverkoelde kragsentrales is. Lugverkoelde kragsentrales gebruik ’n fraksie van die hoeveelheid water van konvensionele waterverkoelde sentrales omdat stoom gekondenseer word vir hergebruik min of meer op dieselfde beginsel as ’n motor se verkoeler. Dit stel egter ingenieurs- en ontwerpuitdagings.

“In sulke kragsentrales is die vertikale en horisontale spasiëring van die verskillende onderdele kritiek belangrik. Daar is duidelik nie genoeg ruimte vir voldoende ventilasie aan die bokant van die drukketels vir voldoende verkoeling nie,” het Rossouw gesê.

Medupi en Kusile sou by voltooiing twee van die wêreld se grootste lugverkoelde steenkoolkragsentrales wees, maar is deesdae bloot twee van die land se onbetroubaarste sentrales.

Volgens konserwatiewe beramings gaan dit boonop uiteindelik tussen 60% en 80% meer kos as wat begroot is.

Meer oor:  André De Ruyter  |  Eskom  |  Medupi  |  Kusile
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.