Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mabuza se beurt vir vliegtuig-oeps

Dit was die afgelope week adj.pres. David Mabuza se beurt om die “slagoffer” te wees van een van die lugmagstralers se oepsies toe twee bande met die landing gebars het.

Die lugmag se Falcon 900 op die aanloopbaan van die Kaapstad Internasionale Lughawe – met twee gebarste bande.

Die vliegtuig, ’n Falcon 900, wat die nommer twee-vliegtuig van die lugmag se BBP-vloot is, het ure lank op die Kaapstad Internasionale Lughawe se sy-aanloopbaan mank gestaan terwyl ’n tegniese span van die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria ingevlieg is met twee nuwe bande.

Mabuza was in Kaapstad vir die parlementsitting waar pres. Cyril Ramaphosa mondelinge vrae moes beantwoord.

Thami Ngwenya, Mabuza se woordvoerder, het by navraag gesê die adjunkpresident is ongedeerd. Hy het nie verder kommentaar gelewer nie.

Vlieënier bevorder nadat hy in Uganda op verkeerde aanloopbaan land.

Volgens lugmagbronne was die senior vlieënier op dié vlug ook in 2015 in die pekel toe hy met dieselfde vliegtuig op ’n ou aanloopbaan aan die militêre kant van die Entebbe-lughawe in Uganda gaan land het.

Destyds was Ramaphosa as adjunkpresident aan boord.

Die sekondêre aanloopbaan is suiwer vir Uganda se militêre vegvliegtuie gereserveer, en die Ugandese lugvaartowerheid het ’n klag teen die bemanning ingedien. Geen militêre vliegtuie het die betrokke aand gevlieg nie en moontlike rampspoedige gevolge is afgeweer.

Kenners het toe gesê die vlieënier het vermoedelik in die donker verward geraak oor waar om te land.

Adj.pres. David Mabuza

Die vlieënier is sedertdien tot ’n senior pos by die eskader bevorder, terwyl die lugmag destyds gesê het die nodige regstellende stappe is ná die Ugandese voorval gedoen.

Wat Donderdag op die Kaapstadse lughawe gebeur het, sal deur die lugmag se vliegveiligheidsafdeling ondersoek word. Ingeligtes in die lugmag meen dit kon om een van twee redes gebeur het. Dit het in Kaapstad gereën en die aanloopbaan was nat. Die Falcon 900 het ’n remmeganisme wat in sulke toestande in werking gestel word om te keer dat die vliegtuig met die landing gly. Sou dié stelsel nie geaktiveer word nie, het die vliegtuig moontlik met die landing begin gly, waarna die vlieënier skerp sou moes rem en só die bande laat bars het. ’n Ander rede sou wees dat die glyweringstelsel nie behoorlik gewerk het nie.

Pleks daarvan om dadelik tot stilstand te kom met die pap bande, het die bemanning die vliegtuig glo tot nader aan die lughawegebou beweeg, wat ook die velling van die bande beskadig het. Twee bande kompleet met vellings is toe met ’n Falcon 50-straler en die nodige tegnici van Waterkloof ingevlieg.

Die Falcon 900 is laat verlede jaar weer in gebruik geneem nadat dit bykans ’n jaar lank op die grond gestaan het terwyl die lugmag sy eie nuwe onderhoudsafdeling in samewerking met die SAL se tegniese afdeling op die been gebring het. Dieselfde geld Inkwazi, die Boeing-sakestraler. Albei is teen miljoene herstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.