Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Macassar-ontploffing: Openbare ondersoek begin

Daar was Maandag meer vrae as antwoorde oor die 2018-ontploffing by Rheinmetall Denel in Macassar, Kaapstad. Dit was die eerste dag van die openbare ondersoek hierna.

Agt mense is in die ontploffing dood. Die ondersoek, onder leiding van die departement van arbeid, volg op toenemende druk van die oorledenes se families.

Drie mense het Maandag getuig.

Fernando Jacobs, die eerste getuie wat geroep is, het ses jaar lank hier gewerk. Hy werk nie meer vir Rheinmetall Denel nie.

Jacobs het getuig daar was dié dag ’n “dringendheid” om plofstowwe te meng en werknemers moes oortyd werk om dit klaar te maak.

Jacobs het dié dag gewerk in die N16-gebou, waar die ontploffing plaasgevind het. Groot volumes dryfmiddels is hier gemeng.

Die Rheinmetall Denel-aanleg se aanwysingsbord. Foto: Jaco Marais

Ten tyde van die voorval is kleiner hoeveelhede enkel-basis-dryfmiddels vermeng tot een homogene mengsel. Dryfmiddels is sonder enige voorval veilig hier vermeng sedert die aanleg in die 1980’s in bedryf gekom het.

Jacobs het getuig hy was op pad na die gebou toe die ontploffing plaasvind.

“Ek moes verhittingsafweermiddels na die gebou neem om vermeng te word. Ek het ’n geluid gehoor, soos ’n inaseming, en toe was daar ’n knal.”

Hy het getuig daar was op dié dag baie plofstof op die perseel; een ton meer as die aanleg se limiet.

Daar was ook vrae oor hoekom Nico Samuels, een van die oorledenes, die dag plofstof in sy voertuig vervoer het en hoekom ’n aansteker op die perseel gevind is.

“Hy moes ’n dieselvoertuig gebruik wanneer hy plofstowwe vervoer het, dit is die korrekte manier, maar dit was die eerste keer dat ek gesien het dat hy sy eie voertuig gebruik,” het Jacobs getuig.

Winston Erasmus, die families se regsverteenwoordiger, het Jacobs gevra of daar enige dringendheid was om die plofstowwe dié dag te meng.

“Ja, hulle het nie verduidelik waarom daar soveel haas was nie, maar ek kon sien almal was baie gejaag. Ons is almal gevra om oortyd te werk,” het Jacobs gesê.

Die ondervraging duur voort. News24


Meer oor:  Rheinmetall Denel  |  Macassar  |  Ondersoek  |  Ontploffing  |  Plofstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.