Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Magnus, Bird Island, skeepswrak en goue munte

Bird Island, waar genl. Magnus Malan, voormalige minister van verdediging, asook wyle Dave Allen, ’n sakeman van Port Elizabeth, en ’n derde man na bewering seuns verkrag het, is ook die eiland waar meer as 1 000 goue munte glo in die apartheidsera verdwyn het.

Dit is ook die eiland waarheen lugmaghelikopters Malan, Allen en hooggeplaastes in die destydse regering na bewering vervoer het.

Munte wat te koop geadverteer word op die webblad www.rarecoincollector.com en wat volgens advertensie-inligting op dié webblad afkomstig is van die wrak van die Dodington. Foto: www.rarecoincollector.com

Die goue munte is van die wrak van die skip Dodington wat teenaan Bird Island gesink het.

In die nuwe opspraakwekkende boek, Die Seuns van Bird Island, word vlugtig verwys na oudminister John Wiley, destydse minister van omgewingsake, se betrokkenheid om te verseker dat Allen ’n lisensie kry om bergingswerk van die wrakke van Dodington (ook gespel Doddington) en ook Sacramento, aan die Port Elizabeth-kusgebied, te mag doen.

In die boek word onder meer beweer dat Malan en nog twee ministers in die Nasionale Party-regering destyds aan seksorgies met seuns deelgeneem het wanneer die ministers vir “visvanguitstappies” na Bird Island naby Port Elizabeth gegaan het.

Die een minister se naam word nie genoem nie omdat hy nog leef. Die ander een is Wiley, minister van omgewingsake in die kabinet van oudpres. P.W. Botha.

Konsessie om ghwano te verwyder

Allen het ’n konsessie van die departement van omgewingsake, waarvan Wiley die minister was, gekry om ghwano van Bird Island te verwyder.

Allen was ook daarvoor bekend dat hy en ’n vriend, Gerry van Niekerk, die Sacramento-skeepswrak asook die Dodington-wrak ontdek het.

In dieselfde tydperk het Wiley gehelp dat die regering wetgewing aanpas vir die beskerming van skeepswrakke.

Dié wetgewing het egter nie die inhoud van wrakke beskerm nie en artefakte en vrag kon steeds verwyder word, volgens ’n navorsingsartikel, The Illicit Movement of Underwater Cultural Heritage: The case of the Dodington Coins, wat in 2002 gepubliseer is.

Allen en sy vriend het toestemming gekry om verskeie items uit die wrak te berg, maar daar was glo geen teken van die goue munte nie.

Clive se goud en die seerowers

In September 1997 is in koerantberigte in Londen genoem dat 1 200 munte opgeveil gaan word.

Dié skat was glo die verlore goue munte van ’n hooggeplaaste amptenaar in die Britse Oos-Indiese Kompanjie, Robert Clive, wat in 1755 verlore geraak het toe die Dodington by Bird Island gesink het.

Volgens mediaberigte het die onbekende duikers aangevoer die munte is net-net buite die Suid-Afrikaanse seegebied gevind in die wrak van ’n onbekende seerowerskip wat dit van die Dodington gebuit het kort nadat die Dodington gesink het.

Die identiteit van die duikers wat die munte ontdek het, asook die naam van die skeepswrak en die ligging daarvan, is nooit bekend gemaak nie.

The Independent het in 2000 berig dat die Suid-Afrikaanse owerhede aangevoer het die munte is by Bird Island verwyder en dat dit binne Suid-Afrika se seegebied is.

Daar is in 2001 berig dat die Suid-Afrikaanse owerhede buite die hof geskik het en dat sowat ’n derde van die munte deur die afslaers, Spink en Seun, aan die Suid-Afrikaanse owerhede terugbesorg is.

Intussen verskyn advertensies op die internet waarin goue munte te koop aangebied word – glo van die wrak van die Dodington en uit die skat van Robert Clive.

Bronne:

Meer oor:  Magnus Malan  |  Goue Munte  |  Birdeiland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.