Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Magnus was Oom 2 wat my seksueel aangerand het'

“Ek gaan vir altyd Magnus Malan se duur reukweerder onthou. Dit sit aan my lyf. Dit het toe. Ook nou.”

So het mnr. X (44), een van die vermeende slagoffers van die pedofielnetwerk waarvan Magnus Malan, voormalige minister van verdediging, John Wiley, oudminister van omgewingsake, en Dave Allen, ’n duiker en sakeman van Port Elizabeth, glo deel was, Donderdag in ’n stad in die Oos-Kaap gesê.

Mnr. X, die man wat beweer hy is een van die bruin seuns wat destyds deur ministers verkrag is. Hy wou nie sy naam bekend maak nie, daarom is sy gesig op die foto onherkenbaar gemaak. Foto: Lulama Zenzile

Hy het Woensdagaand gebraak toe die reuk weer by hom opgekom het.

“Daai reuk sal ek altyd onthou. Sy groot hande oor my gesig, oor my kinderlyf.”

Mnr. X, ’n getroude man en pa van twee kinders, sê hy wroeg al langer as 30 jaar met dit wat met hom gebeur het. Hy het na vore gekom na die publikasie vroeër die week van die boek Seuns van Bird Island deur Mark Minnie en Chris Steyn, waarin die skokkende bewerings oor die pedofielnetwerk en die drie vooraanstande mans (almal reeds dood) gemaak word. Nog ’n oudminister wat nog lewe, was glo ook betrokke, maar word om regsredes nie in die boek geïdentifiseer nie.

“Ek het geworstel met my manlikheid, met my seksualiteit en het gay mans wat ek geken het, gevra hoe het hulle so geword," sê mnr. X. "Baie het gesê hulle is as kind gemolesteer. Maar ek het geweet dit is nie wie ek is nie. Ek was rebels. Ek het skool opgegee. Ek het skelm begin dagga rook. Ek het ’n probleem met gay mans ontwikkel.”

Mnr. X as 'n jong man.

Tot vandag toe kan hy nie ouer wit mans hanteer nie.

Ons sit in ’n sitkamer in ’n restaurant in ’n Oos-Kaapse kusdorp.

Hy is ’n aantreklike, goed versorgde man. Welsprekend.

Mnr. X het Netwerk24 gekontak nadat daar op sosiale media gevra is vir slagoffers van die vermeende pedofielnetwerk om van hulle te laat hoor.

Dit is vir Netwerk24 bykans onmoontlik om sy beweringe onafhanklik te verifieer. In die lig van die onlangse onthullings in die boek Seuns van Bird Island is sy weergawe egter van groot openbare belang, vandaar die besluit om dit te publiseer.

Malan se familie het ná die publikasie van die boek by monde van hul woordvoerder, genl.maj. (aft.) Gert Opperman, destydse kollega van Malan, gesê die familie is “geweldig ontsteld” en geskok oor die beweringe in die boek. 

Opperman sê dit is glad nie hoe oudkollegas, Malan se familie of almal wat hom geken het, hom beleef het nie.

Ook ministers en ander kollegas van Malan het die beweringe verwerp. Pik Botha, oudminister van buitelandse sake, het dit as “loutere kaf” beskryf.

Mnr. X sê hy het eers gewonder of dit die regte ding sal wees om na vore te kom.

"Niemand, niemand weet hiervan nie. Nie my ouers nie, nie my broers of susters of my vrou en kinders nie.”

Maar hy het tot die besef gekom hy kan nie langer stilbly nie. Hy moet met iemand praat.

Mnr. X het nog nooit voorheen met enige mens oor sy beweerde verkragting aan die hande van Malan en minstens nog een ander man gepraat nie.

Hy kyk jou direk in die oë wanneer hy met jou praat. Hy haal sy sonbril af. Sit dit op die tafeltjie langs die bruin leerbank waarop hy sit.

Hy vryf aanhoudend met sy hande oor sy gesig en begin sy storie vertel.

Hy was 13 toe hy een aand in 1987 deur ’n groep wit mans naby die City Snack Pool Den in Noordeinde, Port Elizabeth, “ontvoer” is. Hulle het in ’n blou Volkswagen-kombi gery. Die kombi het hy in latere jare toe hy by die weermag aangesluit het, by die weermagbasis in Port Elizabeth herken, sê hy.

“Daai blou kombi met sy gordyntjies was in die vervoerparkering geparkeer. Dit het aan Intelligensie behoort. Slegs hul voertuie het daar gestaan.”

Mnr. X het nog nooit voorheen met enige mens oor sy beweerde verkragting aan die hande van Malan en minstens nog een ander man gepraat nie.

Hy het Sondag gehoor van die boek, maar het dit nog nie gelees nie.

Magnus Malan, oudminister van verdediging.

Steyn en Minnie beskryf in die boek hoe hulle 30 jaar gelede ’n parallelle ondersoek gedoen het na beweringe van die pedofielnetwerk.

Minnie was in Port Elizabeth en Steyn in Kaapstad. Die een het nie van die ander se ondersoek geweet nie, albei ondersoeke is volgens die boek uit verskillende oorde, waarskynlik van die destydse regering, onderdruk.

“Ek het geweet daar was nog seuns wat hulle verkrag het, ek het net nie geweet hoe baie en dat hulle by Bird Island ook doenig was nie,” vertel mnr. X.

Sy verkragting en dié van minstens nog drie ander jong bruin seuns dieselfde naweek was volgens hom by ’n huis in die Tsitsikamma-gebied. Daar was volgens hom ander seuns ook, maar hulle het gemaklik in die mans se geselskap gelyk.

“Ek en ’n vriend was die betrokke Vrydagaand by die speletjiesarkade by City Snacks. Ons was eintlik veronderstel om na Gelvandale, ’n destydse bruin woonbuurt van Port Elizabeth, te gaan, maar omdat ons laat was en daar teen daardie tyd niks meer vir ons sou wees om te doen in Gelvandale nie, het ons toe maar die bus stad toe gevat.”

Hy sê hulle het die hele aand speletjies gespeel en lekker met ander kinders daar gekuier. Teen 23:00 het hulle egter bekommerd begin raak oor hoe hulle by die huis sou kom.

’n Man het uitgeklim en met die prostitute daar gaan staan en gesels. Sy oë was egter meer op ons gerig.

Hy het die naweek by familie in Bethelsdorp, een van Port Elizabeth se tradisionele bruin woonbuurte, gekuier. Sy ouers is geskei.

Dit was terwyl hulle op pad was na die huis van sy vriend se suster, so 4 km van die speletjiesplek af, dat hy en sy vriend besef het dat daar ’n voertuig is wat hulle agtervolg. Dit was die blou kombi.

By ’n winkel, nie ver van die speletjieswinkel nie, het die blou kombi stilgehou.

“ ’n Man het uitgeklim en met die prostitute daar gaan staan en gesels. Sy oë was egter meer op ons gerig.”

Die vriende het aangeloop, die kombi het hulle weer begin volg.

Hulle het besluit om te probeer weghardloop. Sy vriend Jasper (nie sy regte naam nie) het weggekom. Hyself het egter in ’n doodloopstraat beland.

“Twee groot wit ooms het uit die kombi geklim en na my geloop. Hulle het nog geskreeu, kom hier julle bliksems. Ek was maar klein daai tyd en het probeer om deur hul bene te hardloop.”

Hy sê dat een van die mans hom aan sy Afro gegryp het en hom begin klap het.

Ek kon nie dink wat hulle met ons wou doen nie. Omdat dit apartheidsjare was, het ek gedink dit is maar net hulle manier om ons te boelie.

“Ek het nog gesê nee oom, ek het niks gedoen nie.”

Die “oom” het vir hom gesê hy gaan saam met hulle vanaand.

Hy is in die kombi gegooi. Sy hande is geboei. In die kombi was daar nog vier ander seuns. Drie van die seuns het agter in die kombi gesit en drink.

“Dit het gelyk soos brandewyn. Hulle was heel gemaklik met die mans."

Volgens mnr. X was daar so vyf wit mans in die kombi.

"Die ander outjie het, soos ek, vreesbevange gelyk."

Mnr. X sê die outjies agter in die kombi het gesê hulle moet hul bek hou toe hy en die ander outjie wat by hom gesit het, begin huil.

“Ek kon nie dink wat hulle met ons wou doen nie. Omdat dit apartheidsjare was, het ek gedink dit is maar net hulle manier om ons te boelie.”

Hy sê dat die kombi in Mountweg opgery het, verby die Louis Le Grange-polisiekwartiere.

Hy het die oggend wakker geword. In ’n bed, kaal. Die son was reeds op. Sy hande was nog steeds vasgemaak. Langs hom het ’n ouer man gelê en snork. Wit. Kaal. Mnr. X noem die man “oom een”.

In Kaapweg het die kombi met nog ’n voertuig, wat glo bygekom het, by ’n vulstasie stilgehou.

“Die oom wat my gevang het, het uitgeklim. Ek het probeer om die kans te kry om weg te hardloop.”

Hy sê ’n ander man wat uit die tweede voertuig geklim het, het hom egter gevang.

"Hulle het aan die petroljoggie gesê ons is inbrekers toe hy hulle vra wat aangaan."

Terug in die kombi is hy drank ingejaag.

“Ek het nie ’n keuse gehad nie. Iemand het my lugpyp vasgedruk en ek moes sluk.”

Een van sy ontvoerders het glo ook ’n vuurwapen teen sy sy gedruk. Hy het later in die weermag besef daardie vuurwapen was ’n .38 Special.

Hy kyk na foto’s van Malan en ander mans wat by die pedofielnetwerk betrek word. Hy begin huil. Saggies en sit die foto’s terug op die tafeltjie waar sy sonbril lê.

Mnr. X sê dat hy kort daarna sy bewussyn verloor het.

Hy het die oggend wakker geword. In ’n bed, kaal. Die son was reeds op. Sy hande was nog steeds vasgemaak.

Langs hom het ’n ouer man gelê en snork. Wit. Kaal. Mnr. X noem die man “Oom Een”.

“Ek het histeries geword en begin huil. Ek kon nie regop sit nie. Ek het geweet ek was geviolate. Dit was pynlik.”

Twee van die mans wat in die kombi was, het toe glo ingekom. Die een het hom glo weer begin klap.

“Ek het gesê dat ek niks gedoen het nie. Hy het gesê ek moet my bek hou en dat ek moet gaan bad.”

Volgens mnr. X kon hy nie reg loop nie. In die badkamer het hy gevra dat sy hande losgemaak word.

“Ek het gesê ek sal nie so kan was nie.”

Terwyl hy in die bad was, het Oom Een ingekom en glo oor sy kop begin streel.

“Hy het my gevra of ek orraait is. Ek het nog gewonder hoe hy my dit kan vra ná dit wat hy gedoen het.”

Oom Een het volgens mnr. X weer op die bed gaan lê.

"Hy het my geroep en gesê ek moet langs hom kom lê. Ek het geweier."

Dit is glo toe dat Oom Een na die man met die vuurwapen roep. Dié het hom weer met die vuurwapen gedreig, waarna hy langs Oom Een gaan lê het.

“Ek was so seer.”

Hy vee kort-kort die trane af. Probeer glimlag maar dit haal nie eens sy mondhoeke nie.

Die "oom" het hom toe daarna begin betas. Hy het glo ook gevra dat mnr. X 'n seksuele daad met hom pleeg.

"Ek het geweier. Die oom het my die wêreld belowe. Dat hy na my ouers sal kyk, dat hy vir my alles sal koop wat ek wil hê. Ek het gesê dit is nie nodig nie.”

Dit is glo toe dat die man hom aan sy hare gegryp en sy kop afgedwing het.

“Hy het vir my gesê hy kan my maklik laat doodmaak. 

"Sy presiese woorde was: ‘Jy wil nie weet wat maak ons met outjies soos jy wat nie luister nie.’ Ek het hom toe gemasturbeer.”

Mnr. X sê in dié tyd het die "oom" heeltyd sy kop gestreel.

“Ek was ’n tiener, ek het geweet van dié goed, maar nooit gedink ek sal in ’n situasie wees waar ek dit oorkom nie.”

Die mishandeling het volgens hom tot minstens die middag geduur. Toe is hy deur iemand kom haal om te kom eet.

“Ek het nog nooit sulke lekker en so baie kos gesien nie.”

Daar was volgens hom nog seuns in die huis. Daar was ook polisiemanne en luukse voertuie wat by die huis geparkeer was.

“Die mans het almal daai safari suits gedra.”

Ná middagete het ’n tweede "oom" hom kom haal.

“Die oom het gesê hy hoor ek is so lekker.”

Volgens mnr. X het Malan hom gemasturbeer.

“Dit was so seer dat ek begin bloei het.”

Hy sê dat hy daardie Saterdagaand heelnag deur Malan misbruik is.

“Ek was sy vrou daai aand gewees.”

Mnr. X het in 1991, toe hy by die weermag aangesluit het, eers werklik besef wie die man, Oom Twee, is wat hom na bewering verkrag het.

“Ek het nooit persoonlike kontak met hom (Magnus Malan) gehad nie, maar hy was gereeld in Port Elizabeth by die Kommandament OP waar ek gesetel was. Dis tydens een van dié besoeke dat ek hom gesien het. Ek was kwaad, wou hom konfronteer, maar het nie geweet hoe nie.”

Hy sê dat hy ook al briewe geskryf het vir Malan, maar dit nooit gestuur het nie. “Ek was bang vir die verleentheid.”

Ek het hulle vergewe. Vergeet sal ek egter nooit.

Hy kyk na foto’s van Malan en ander mans wat by die pedofielnetwerk betrek word. Hy begin huil saggies en sit die foto’s terug op die tafeltjie waar sy sonbril lê.

“Ek het hulle vergewe. Vergeet sal ek egter nooit.”

Hy kon nie die man wat hom eerste verkrag het op foto’s uitken nie. Daar was twee mans na wie hy gekyk het, maar hy sê die bril wat die mans op die foto’s op het, maak dat hy hulle nie kan eien nie.

Mnr. X en twee ander seuns wat hy vermoed ook verkrag is, is die Sondag in die vroeë oggendure in die woonbuurt Westering gelos.

“Dit was so op die grens van Westering en Malabar. Hulle het ons uit die kombi gesit, die boeie afgehaal en gesê ons moet hardloop sonder om om te kyk. Ons was geblinddoek. Ek het gehardloop totdat ek nie meer kon nie.”

Hy sê toe hy en die ander seuns die blinddoeke afhaal, het hulle besef dat hulle uit Malabar moet kom.

“Dit was ’n Indiërwoonbuurt en ons was bang die mense dink ons is inbrekers.”

Geeneen van hulle drie het met mekaar gepraat oor dit wat in die huis by Tsitsikamma gebeur het nie.

“Ons was skaam.”

Hy onthou een outjie was van Schauderville en een van Gelvandale.

Hy het ure daarna by sy familie se huis in Bethelsdorp aangekom. Hulle was rasend van bekommernis. Jasper het toe al gaan sê dat ek weggeraak het.

Mnr. X het ook nie vrae beantwoord oor waar hy was nie.

“My oom het my gevra waar ek was en hoekom ek so snaaks loop. Hy wou ook weet hoekom my klere én ek so vuil was. Ek vermoed hy het vermoed iets het met my gebeur.”

Hy is na die badkamer waar hy gaan was en Vaseline aangesit het.

“Ek het nie geweet wat om te doen nie.”

Hy is die Sondagmiddag na sy pa se huis. Sy pa wou ook weet waar hy was.

“Ek het hom ’n antwoord skuldig gebly.”

Hy kyk senuagtig na sy hande.

“Die afgelope 40 uur worstel ek oor hoe ek sou vertel wat met my gebeur het. Die jare het aangestap. Ek het daarvan probeer vergeet. Daar was tye dat ek terugflitse gekry het, maar dan baklei ek teen die seer en sit dit terug in sy boksie.”

Hy is vandag oorbeskermend oor sy twee kinders.

Mnr. X en sy vrou is al langer as 20 jaar getroud.

“My vrou is my sielsmaat. Die mens wat my staande hou. Sy weet alles van my, behalwe dit. Ek is die een wat my gesin moet beskerm. Hoe vertel ek hulle dat ek as kind verkrag is deur twee mans?”

Hy vertel hoe hy in sy alledaagse lewe, selfs by die kerk, ingestel is op kinders se welstand.

“Ek weet wat die gevaartekens van seksuele mishandeling is. Kinders wie se persoonlikhede verander. Gelukkige kinders wat ongelukkig lyk en word. Ons kerkmense vra altyd hoe kan ek so vinnig optel as daar fout is in ’n kind se lewe. Ek kan nie vir hulle sê dat ek self daardeur is nie."

Meer oor:  Magnus Malan  |  Mnr. X  |  Bird Eiland  |  Port Elizabeth  |  Reukweerder  |  Pedofiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.