Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Majoor van Bfn sien wêreld oor 20 j.

Maj. Chris Ashman (nou 85), ’n gebore en getoë Bloemfonteiner wat dapper in oorloë regoor die wêreld geveg het toe hy destyds vir 20 jaar lank ’n beroepsoldaat was, kon sedert 1970 ook M.B.E. (Member of the British Empire) agter sy naam skryf.

Maj. Chris Ashman
Beroepsoldaat. Maj. Chris Ashman, (85), met sy militêre memorabilia teen die muur in sy meenthuis in Heuwelsig, Bloemfontein. In sy hand hou hy ’n gevaarlike kykri vas wat hulle in oorlogvoering gebruik het toe hy lid van die7th Gurkha Rifles-regiment in die Verre Ooste was. Foto: Marietjie Gericke

Dit was nadat hy dié eer van koningin Elizabeth II vir sy dapperheid en besonderse bydrae tot die Britse Leër ontvang het. Nadat hy hom in 1954 by die Royal Military Academyin Sandhurst, Engeland, aangesluit het, het ’n interessante en uitdagende loopbaan oor twee dekades oor verskillende vastelande gevolg en was daar eenvoudig geen keer aan hom nie.

Ashman, ’n oudleerling van Christian Brothers’ College (CBC) in Bloemfontein, het lede van die Nellie Swart-klub in die Rosestad verlede Saterdag aan sy lippe laat hang toe hy vir langer as ’n uur klokhelder oor sy wedervaringe as soldaat jare gelede gepraat en goue herinneringe uit sy onthou-koffer opgediep het.

Ashman vertel oor sy familiegeskiedenis in Bloemfontein dat sy oupagrootjie sir John George Fraser was. “Nét voor die Anglo-Boere-oorlog was oupagrootjie die voorsitter van die Vrystaatse Volksraad onder pres. M.T. Steyn.

Pres. Steyn was getroud met Tibbie Fraser, wat John George Fraser se niggie was. Marie Fraser, dogter van sir John George Fraser, is weer getroud met Gideon Brand van Zyl. Hy was die administrateur van die Kaap, waarna hy goewerneur-generaal van Suid-Afrika geword het.

“Brand van Zyl was ook die eerste gebore Suid-Afrikaner wat daardie pos beklee het,” sê Ashman oor sy stamverwante.

Hy vertel nadat hy in 1951 aan CBC gematrikuleer het wyl hy as kind “goeie en gelukkige kinderjare in Bromptonweg gehad het, is hy in 1954 oorsee om in sy pa, Dick, se voetspore te volg.

“My pa is in Engeland gebore en sy pa is as deel van 100 polisiemanne destyds ná die Anglo-Boere-oorlog na Suid-Afrika gestuur omdat die polisiemag na die oorlog hier verpletter was. Op 15-jarige ouderdom het my pa weggeloop en hom by die Suid-Afrikaanse Leër gaan aansluit. Hy het in Frankryk aan die Slag van Delvillebos deelgeneem.”

Ashman sê hy is, soos sy pa, na die Royal Military Academy Sandhurst in Engeland, wat die offisiers-opleidingskollege van die Britse Leër is.”

Liefdevolle oudag. Maj. Chris Ashman, M.B.E. (85), en Carol Ashman (80) met hul liefling-hondjie in hul meenthuis in Heuwelsig.Foto: Marietjie Gericke

Hy sê hy het in 1956 ’n offisier geword waarna hy na die Verre Ooste is waar hy hom by die 7th Gurkha Rifles-regiment aangesluit het.

“Dit is ’n infanterie-regiment van die Britse Leër sedert 1815 tot nou.

“Hierna het ons in die operasionele gebied in Malaya (vandag Maleisië) geveg.

“Ons het die kommunistiesgesinde terroriste uit die land verjaag en vermoor. Dit het gemaak dat die Republiek van Maleisië kon ontstaan. Dit is vandag een van die voorste lande in die Ooste,” sê hy.

“Dit sou waarskynlik nie so vandag gewees het sou die kommuniste nie uitgedryf gewees het nie.”

Ashman sê nadat Maleisië ontstaan het, het pres. (Kusno Sosrodihardjo, oftewel Sukarno, van Indonesië probeer om die Maleisiese Federasie te ontbind. “Ons is dadelik na Borneo langs Indonesië.

“Ons het pres. Sukarno se magte gestuit en hulle uit Borneo verdryf.”

Dit sluit in van operasionele diens as soldaat, strategiese beplannings in taktiese oorlogvoering, om administratiewe take in die leër te kan verrig, en vele meer in.

Ashman sê hierna is hy terug na Engeland om by die staf-opleidingskollege saam met soldate van regoor die wêreld verdere opleiding te kry om alle militêre vaardighede aan te leer.

“Dit sluit in van operasionele diens as soldaat, strategiese beplannings in taktiese oorlogvoering, om administratiewe take in die leër te kan verrig, en vele meer in.

“Ons het ook geleer om personeel te bestuur.”

Hiervandaan was hy by gevegte in Noord-Ierland betrokke.

“As diensoffisier by die hoofkantoor het ek die bevel gekry om op 12 Augustus 1969, presies 50 jaar gelede, troepe na Belfast in Noord-Ierland te stuur om die opstand daar te gaan onderdruk.

“Daardie opstande het van 1969 tot 1999 gewoed. Maar ek het in 1971 na Suid-Afrika teruggekeer nadat ek afgetree het. In daardie stadium was ek moeg vir oorlog maak en ek het na my geboorte- en grootword-stad, Bloemfontein, verlang.”

Ashman sê as hy vandag terugkyk moet hy sê dat hy nooit spyt was oor sy besluit om ’n beroepsoldaat te word nie. “Dit was ’n roeping.

“Ek en my vrou, Carol, (80), het wêreldreisigers geword wyl ek beroepsoldaat was, en in die meeste plekke waar ek geveg het, was dit om terrorisme met wortel en tak uit te roei.”

Hy sê hulle het as egpaar in onderskeidelik Hongkong, Singapoer, Malacca in Maleisië, Engeland en Suid-Afrika gewoon nadat hulle 58 jaar gelede in die Metodiste-kerk in Charlesstraat in Bloemfontein getroud is.

“Carol was ’n nooi Botha en het ook in Bloemfontein grootgeword. Haar pa was die Botha van die bekende Bloemfonteinse onderneming Roderick & Botha, en hulle het mekaar as skoolkinders al leer ken.

Marietjie Gericke
Marietjie Gericke

Hy vertel hulle het as egpaar vriende regoor die wêreld gemaak toe hy soldaat was, en hulle gaan in September weer Engeland besoek vir ’n reünie van die 7th Gurkha Rifles-regiment, en om die kinders en kleinkinders daar te besoek.

Ashman sê nadat hy sy loopbaan as beroepsoldaat beëindig het, het hulle van Bloemfontein na Mahikeng (Mafikeng) verhuis waar hy nog vir 25 jaar in die motorbedryf as die handelaarshoof van ’n Ford-agentskap gewerk het.

“My vrou het in daardie 25 jaar ook gewerk en het drama aan die International School of South Africa gegee waar studente van regoor die wêreld, soos van Engeland, Amerika en Nigerië, kom leer het.”Die Ashman-egpaar het drie kinders, Barry wat ’n prokureur in Johannesburg is, Neil wat ’n nierspesialis in Engeland is, en ’n dogter wat by St. Andrew’s in Bloemfontein Engels en geskiedenis gee.

Hulle het ook vyf kleinkinders – vier dogters en ’n seun.

Drie van die kleinkinders bly in Engeland en twee in Bloemfontein.

* Ashman sê hy is ook lid van die klub University of the Third Age waar hy al vier keer breedvoerige praatjies oor die Eerste Wêreldoorlog gegee het.

Meer oor:  Marietjie Gericke  |  Bloemfontein  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.