Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mamba in hand, toe duisternis

Fred Lubbe het pas die bielie van ’n swartmamba met sy linkerhand aan die stert en met sy tang aan die middellyf vasgevat, toe gaan sy koplig af.

Fred Lubbe in die huis buite Empangeni waarin hy dié swart mamba gevang het.

Daar staan die 74-jarge slangvanger toe in die donker met die slang in sy hande, maar hy weet nie waar die dodelike kop is nie. Dit was ’n “senuweeagtige maar nie bang nie” twee en ’n half minute voordat iemand genoeg lig kom maak het sodat hy die werkie kon afhandel.

Jy sou dink dié noue ontkoming einde April sou Lubbe daaraan laat dink om ná 60 jaar sy slangstok op te hang. Maar dié afgetrede tuinontwerper sê sy reflekse is nog goed.

“Ek is ’n jong ou ballie. Ek het nog ’n tiener in my. Ek rook en drink ook nie en is redelik fiks. Ek sal weet die dag wat ek ’n close call (met ’n slang) het, ek moet ophou,” sê hy.

Hy gee darem toe verlede Woensdag was sy gevaarlikste vangslag nog. Dit was ook die langste swartmamba wat hy nog aangekeer het.

‘En ek weet nie waar sy kop is nie.’

Hy is die aand ontbied na ’n semi-landelike gebied buite Empangeni, waar hy woon, deur ’n man wat die slang agter sy bed in die hoofslaapkamer opgemerk het.

Die ou het uitgehardloop en die kamerdeur toegeklap.

Toe Lubbe daar aankom, was dit donker en hy het met sy koplampie lig gemaak.

Die kamer was vreeslik deurmekaar, sê hy. Daar was blikkies, kerse, bottels, klere, komberse en skoene oral op die vloer. Teen die mure het rotmis gelê.

Met sy slangtang het Lubbe die items op die vloer stuk-stuk op die bed getel sodat hy nie daaroor moes val nie. Toe skuif hy die groter goed, soos bokse en opvoubare klererakke. Uiteindelik moes hy ’n swaar houtkas sonder pote van die muur wegskuif.

Dit het gelyk of rotte ’n gat in ’n vals bodem van die kas geknaag het om daarin nes te maak. Die oomblik toe hy die kas skuif, het hy die slang hoor blaas.

“Die slang het die kenmerkende kerrie-reuk afgegee wat swartmambas afskei as verdedigingsmeganisme. Ek het die slang se middellyf tussen die muur en die kas gesien.”

Hy het hom pas vasgevat toe gaan sy koplig dood. Die battery was pap.

Die enigste ander ligbron was ’n spreilig wat naby die kamerdeur aan die muur gehang het. Maar dit het ’n groot skaduwee na die kas se kant gegooi. Lubbe moes wag dat die huis­eienaar die lig by die venster opstel.

“Dit was ek in die stikdonker met ’n mamba. En ek weet nie waar sy kop is nie.”

Toe die lig uiteindelik skyn, het hy die slang aan sy nek beetgekry en hom in ’n houer geplaas. Dit was sy langste swartmamba nog: 2,95 m. “En hy is ’n dik seun,” sê hy.

Hy het die slang vrygelaat op ’n plek wat weg van huise en mense is. Lubbe verklap nooit waar hy dit doen nie, behalwe dat “daar genoeg kos, water en skuiling is”.

“Dit was nie my moeilikste slangvang ooit nie, maar die gevaarlikste.”

Lubbe reken die slang was minstens ’n paar dae in die kamer. Die rotte was sy “takeaways”. “Dat dié ou (die huiseienaar) nie deur die slang gebyt is nie, is ongelooflik.”

Meer oor:  Slangvanger  |  Swartmamba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.