Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: ‘Mamma, hulle skiet te veel’, toe sterf kleuter

“Mamma, ons moenie meer hier bly nie, want hulle bly hier skiet.”

Dit is wat Thea Lewis (4) gesê het enkele dae voordat sy Woensdagmiddag in ’n bendeskietery voor haar ouerhuis in Uitsig, Ravensmead, doodgeskiet is.

Tamerlene Lewis (26) se dogtertjie, Thea (4) is Woensdagmiddag doodgeskiet. Foto: Jaco Marais

Tamerlene Lewis (26), Thea se ma, sê sy was in haar kamer en Thea en haar sussie, Hope (2), het voor die huis gespeel toe sy die skote hoor klap.

“Ek wou nog uithardloop, maar Thea was reeds in die gang. Ek het haar gevra: ‘Thea wat is dit?’ maar sy kon nie praat nie. Ek het nie enige bloed gesien nie, maar toe ek haar optel en haar hempie oplig, kon ek die klein wondjie sien,” sê Lewis.

Thea se laaste woorde aan haar was: “Gaan haal my sussie, sy’s nog buite.”

Lewis sê haar dogtertjie, so klein soos sy was, het in baie mense se harte gekruip.

“Sy en haar pa was baie geheg aan mekaar. Sy het die oggend aan haar pa gesê dat as hy vir haar ’n Penny Polony koop, sal sy hom nooit weer vir geld vra nie.”

Sy sê Thea was lief vir Penny Polonies en R1-munte.

“Sy het so uitgesien om volgende jaar skool toe te gaan soos haar tienjarige ouboet, Rivalti. Nou sal ek haar nooit sien grootword nie. Daar is so baie wat ek nou gaan mis.”

Oor die bendes in gebied het Lewis maar min te sê.

“Dit maak nie saak of hulle gevang word of nie, my kind sal nooit weer terugkom nie.”

Past. Adam Alexander, wat oomblikke ná die skietvoorval op die toneel was, sê bendegeweld het in die afgelope twee dae drie kinders se lewe geëis.

“Thea het in my arms gesterwe. Ek het een oomblik nog haar pols gevoel en die volgende oomblik was daar niks.”

Tamerlene Lewis staan voor die huis waar haar dogter Thea doodgeskiet is. Foto: Jaco Marais

Hy het die premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, uitgedaag om daadwerklik by die geweld op die Kaapse Vlakte in te gryp.

“Toe daar ’n waterkrisis was, het Zille gou gesê dat die weermag vir Dag Zero ingeroep sal word. Nou vra ek premier Zille wat van óns ‘Dag Zero’ wat al jare hier is.”

Alexander sê inwoners wat gebuk gaan onder bendeverwante misdade wil hê die polisie en weermag moet ingeroep word.

“Ons kinders kan nie daagliks afgemaai word en ons gemeenskap uitgewis word deur bendes en skieters nie. Iemand sal iets moet doen om ons mense te help.”

Hy sê dit is die eerste keer dat ’n kind in sy arms doodgaan.

“Dit sal altyd by my bly. So jonk en pragtig en nou vir ewig weggevat.”

* Die polisie het Donderdagoggend twee mans in verband met die moord aangekeer.

Lt.kol. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie deurnag na die verdagtes gesoek het.

“Twee mense is om 04:30 aangekeer. Hulle sal binnekort in die hof verskyn.”

Traut sê meer lede van die polisie is in gebiede soos Ravensmead ontplooi om “voorvalle van geweld te bekamp”.

Inwoners sê vermeende lede van die Terrible Josters-bende het na bewering in die gebied geskiet toe Thea getref is.

Dan Plato, LUR van gemeenskapsveiligheid, sê dié voorvalle skeur gemeenskappe verder uitmekaar.

“Ek doen ’n beroep op die gemeenskap, veral die stille meerderheid wat dikwels in die kloue van wettelose misdadigers vasgevang is, om saam te staan teen die voortslepende geweld.

“Ons kan nie die vlak van geweld, skietery en wetteloosheid in ons gemeenskappe aanvaar nie. Ek was verlede maand in Uitsig oor soortgelyke geweldskwessies en hoe almal ’n rol kan speel om die veiligheid in die gemeenskap te verbeter.”

Plato vra dat mense van die gebied met die polisie moet saamwerk sodat die geweldplegers agter tralies gesit kan word.

Meer oor:  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.