Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man (69) sterf nadat huis afbrand
Richard Fryde (69) het Dinsdag gesterf nadat hy Maandag baie ernstige brandwonde in sy huis opgedoen het

Richard Fryde (69), ’n geliefde inwoner van Deneysville, het Dinsdag aan sy erge brandwonde beswyk nadat hy en nog sewe lede van sy familie Maandagoggend in ’n brandende huis vasgekeer was.

Carmen Fryde, sy skoondogter, sê sy en haar man, Victor, het Sondagaand in die sitkamer geslaap. Victor het Maandag omstreeks 04:30 wakker geword van die rook en vlamme wat in die sitkamer was en het almal wakker gemaak.

Die hele huis was binne oomblikke met rook gevul en dit was so donker dat ’n mens niks kon sien nie, sê Carmen.

“As jy jou oë oopgemaak het, het die rook jou onmiddellik verblind.”

Daar was ook geen elektrisiteit nie.

Victor het sy broer, ook Richard, dié se vrou, Amanda, en hul twee kinders, Richard (11) en Sumari (17), wat ook in die huis bly, wakker gaan maak.

Ek het geglo ons gaan almal op die stoepie doodbrand omdat niemand die regte sleutel vir die veiligheidshek kon kry nie.
Carmen Fryde

Iemand het ook die bejaarde Fryde-egpaar geroep. In die chaos het Fryde in die gang geval en kon hy nie weer opstaan nie.

Hy was die afgelope tyd nie gesond nie, sê Carmen.

Haar skoonma, Helen, het terug die slaapkamer ingevlug.

Intussen het hulle die huis se veiligheidsdeur na buite probeer oopsluit. In die verwarring kon niemand die regte sleutel vir die hek se slot kry nie en almal was op die stoepie vasgekeer.

Fryde het in die gang gelê en na sy kinders geroep en geskree: “Help my, ek brand.”

Die huis waarin die Fryde-familie gewoon het, is Maandagoggend in puin gelê.

Richard het sy pa aan sy arms na veiligheid gesleep.

Die twee jong kinders was angsbevange en het teen die traliewerk op die stoepie probeer uitklim om van die vlammehel weg te kom, sê Carmen.

“Ek het geglo ons gaan almal op die stoepie doodbrand omdat niemand die regte sleutel vir die veiligheidshek kon kry nie.”

Iemand het ná ’n gespook die deur oop gekry en Victor en ’n buurman wat daar opgedaag het, het die slaapkamer se diefwering van buite oopgedwing om Helen uit te kry. Sy is aan haar arms deur die klein opening na veiligheid getrek.

Victor Fryde moes sy ma, Helen, by die diefwering, regs, uithaal.

Fryde is in Sasolburg in die hospitaal gestabiliseer waarna hy na die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas is. Hy het derdegraadse brandwonde oor 90% van sy liggaam opgedoen en het Dinsdagoggend gesterf.

Carmen sê Fryde was vir haar ’n pa en nie ’n skoonpa nie. Hy was ’n geliefde inwoner in die dorp en het tot onlangs ’n gemeenskapskoerant, die Balie Nuus, uitgegee.

Sy algemene kennis was ongelooflik en hy het oor ’n skatkis van inligting oor die Boereoorlog beskik. Hy het duisende boeke besit waarvan die meeste gelukkig in ’n buitekamer geberg was.

Die ouer Fryde-egpaar het ook ’n kitskosrestaurant en ’n klerewinkel besit en Fryde het eiendomme verkoop.

Carmen sê die gemeenskappe van Deneysville, Heilbron en Orangeville ondersteun die familie op elke manier denkbaar.

Die egpaar het nog ’n seun, Clive, wat in Engeland bly.

Die reëlings vir Fryde se roudiens sal gefinaliseer word sodra Clive na Suid-Afrika kan kom.

Meer oor:  Deneysville  |  Vasgekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.