Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man betaal R3 m. vir swye oor seks
Die woonstelkompleks in Parklands waar die polisie ’n klopjag uitgevoer het op klagte dat Shantal Bridger (regs) ’n bordeel hier bedryf het.Foto: Conrad Bornman

’n Bordeel het ’n Kapenaar na bewering vir amper R3 miljoen afgepers nadat hy vyf jaar gelede van die dienste van een van hul meisies gebruik gemaak het.

Die 38-jarige man, die seun van die grootbaas van een van die land se grootste maatskappye, is gedreig dat foto’s en video’s van sy eskapades op sosiale media gepubliseer gaan word indien hy nie die geld betaal nie.

Uit vrees dat hy sy werk by ’n groot beleggingsmaatskappy sou verloor en dat hy sy ouers in die verleentheid sou stel, het hy toegegee aan die eise. Hy het uiteindelik oor ’n tydperk van twee jaar R2,8 miljoen se omkoopgeld betaal voordat hy, ná sy troue in 2014, genoeg moed bymekaargeskraap het om ’n klag by die polisie in te dien.

Die man, ’n inwoner van ’n Kaapse spogbuurt, se identiteit is aan Rapport bekend, maar mag ingevolge die wet nie geïdentifiseer word nie omdat hy die slagoffer van afpersing is.

Sy beweerde afperser, die 45-jarige Shantal Bridger, is tans voor die hof op onder meer aanklagte van afpersing, mensehandel, bedrog, geldwassery en die besit van gesteelde voertuie. Sy bedryf na bewering verskeie bordele in Bloubergstrand, Tableview en Parklands aan die Kaapse Weskus.

Achmat Toffa Foto’s: Nasief Manie

Die man het blykbaar in September 2012 van die dienste van een van Bridger se meisies gebruik gemaak, waarna Bridger hom begin dreig het. Hy moes aanvanklik R50 000 aan haar betaal. Sy laaste betaling was ’n bedrag van R20 000 in Junie verlede jaar.

Die man is een van minstens twee mense wat beweer dat Bridger hulle op dié manier afgepers het.

Die ander is ’n 65-jarige Namakwalander wat R100 000 verloor het nadat hy in Oktober verlede jaar op ’n advertensie vir ’n “gesellin” gereageer het.

Dié afspraak was vir R20 000, wat hy in twee paaiemente, die laaste op 3 November, betaal het. Twee dae later het “Casey” vanuit Kaapstad by hom aangekom.

Bridger wou hê dat hy ook R3 000 vir Casey se buskaartjie betaal, maar hy het geweier.

Daarna het hy ook R21 000 betaal vir die gunste en gawes van “Nikkie van die Weskus”. Op pad terug Kaap toe is Nikkie blykbaar “gearresteer” en Bridger het hom gebel en gesê hy moet help met haar regskoste. Toe hy weier, is hy gedreig dat naakfoto’s van hom op Facebook gepubliseer sou word. Hy het toe R40 000 aan haar betaal.

Fareez Allie

Ondanks die bloutjie met Bridger het hy in Februarie wéér van haar meisies se dienste gebruik gemaak.

Die man het die afgelope week aan Rapport gesê hy “is verwoed (sic)” vir Bridger.

“Die laaste dreigemente wat ek gekry het, was die dag voor Kersfees. My suster-hulle was hier by my en almal is op Facebook – so jy kan dink wat ek deurgemaak het.”

Hy kla ook dat die meisies wat by hom aangekom het dikwels nie dieselfde meisies was as dié op die foto’s op Bridger se webblad nie.

“Dan sit ek hulle maar die volgende dag weer terug op die bus.”

Hy sê wat met hom gebeur het, “behoort ’n waarskuwing te wees vir ouens soos ek”.

Volgens kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, het hul teenmensehandel-span in hul ondersoek ontdek dat Bridger en haar sakevennoot Juan Warren (39) die vermeende baasbreine in ’n bordeelsindikaat was.

Bridger, Warren en nog drie ander mense is in Februarie vanjaar gearresteer ná ’n gesamentlike ondersoek deur die Valke, misdaadintelligensie, die Metro-polisie en wetstoepassers van Kaapstad.

Beslag is ook gelê op ’n vermoedelik gesteelde Nissan Sentra en VW Caddy.

Ramovha sê dié twee het tussen 2012 en 2015 na bewering bykans R3 miljoen ingesamel deur aan voormalige kliënte voor te gee dat hulle foto’s en video’s van hul seksuele ontmoetings met prostitute het.

Die ander beskuldigdes is ’n beweerde prostituut, “Jade” (29), en Bridger se “lyfwagte”, Fareez Allie (35) en Achmat Toffa (41).

Allie en Toffa is voorheen vrygespreek van die moord op Bruno Brönn, eienaar van die gay-nagklub Bronx.

  • Bridger se seun, Robin Reyneke, is die afgelope week gearresteer en op borgtog vrygelaat.

Van Bridger se voormalige bure in Dolphinstraat, Bloubergstrand, het Vrydag aan Rapport vertel hulle was maar altyd “agterdogtig” oor die talle “ouer en jong meisies” en die “lang, slap” voertuie by Bridger se huis.

’n Buurman sê hy het al “bekendes” daar gesien.

Ingeligtes sê klubs wat met Bridger geassosieer word is “Mrs. Delivery” en “Blouberg Babes”.

“Jade” adverteer haarself ook as “Skyla” op webtuistes vir gesellinne. Sy beskryf haarself as “eksentriek en borrelend” en “pret om mee te wees”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.