Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man dood, Australiër val oor naweek op Kaapse berge
Lede van die Bergklub van Suid-Afrika, asook reddingspersoneel, ná die dood van die bergklimmer in Muizenberg. Foto: Verskaf

’n Man, vermoedelik in sy 70’s, is Sondagmiddag dood ná ’n rotsklim-ongeluk by die Muizenberg-krans, ’n bekende rotsklim-terrein naby Muizenberg in die Wes-Kaap.

Die man en twee vriende het glo die rots uitgeklim toe die ongeluk gebeur. ’n Stuk rots het na bewering losgekom wat tot die ongeluk gelei het. Dit is nie bekend of die rots hom getref of onder hom uitgegly het nie.

Reddingsdienste het omstreeks 15:00 op die toneel aangekom en besluit om ’n helikopter te ontbied. ’n Reddingspan is ook te voet na die toneel gestuur. Sowat 25 mense was by dié poging betrokke.

Ongeag slegte weer het die span op die grond teen die berg opgestap om die man met toue van die krans af na ’n meer beskutte gebied te skuif.

Die helikopter kon die pasiënt van hier af bereik. Hy is gestabiliseer, hoewel gevind is dat hy verskeie ernstige beserings opgedoen het en in ’n kritieke toestand was.

Die reddingshelikopter het nader gevlieg en met die span op die grond se hulp is die man van die berg af opgehys, waarna hulle hom na ’n gebied gebring het waar nog reddingspersoneel gewag het.

Die helikopter in die proses om die man te vervoer. Foto: Verskaf

Nigel Forshaw, ’n ooggetuie, skryf op Facebook: “Die vlieënier het uitstekende vaardighede getoon. Hy het die persoon in ’n sterk suidoostewind laat sak en afgelaai.

“Hy het ook redelik naby die kranse gevlieg. Die vlieënier het twee keer verbygevlieg voordat hy die persoon die derde keer laat sak het.”

ER24 sê die helikopter het die pasiënt langs die Boyes-rylaan afgelaai. Dié pad was tydens die reddingspoging gesluit. “Ongelukkig is die man ná ’n kort tydjie aan sy talle beserings dood.

“Besonderhede rondom dié voorval is nog nie bekend nie, maar plaaslike owerhede was op die toneel vir verdere ondersoek,” lui die verklaring.

Die Bergklub van Suid-Afrika dra sy innige meegevoel oor aan sy familie en almal wat hom geken het. Die klub wou uit respek vir sy familie nie sy identiteit bekend maak nie.

Australiër gered ná val

Die Wildernis-soek-en-reddingspan was Maandagoggend op pad na nog ’n reddingspoging op Tafelberg toe ’n 64-jarige Australiese vrou op die kontoerpad tussen die onderste kabelstasie en die Platteklip-roete geval en tussen sewe en tien meter teen die berg afgerol het.

Die reddingspan het haar teen 10:40 bereik en ’n reddingshelikopter was teen 11:16 op pad na haar.

Sy is opgehys en by ’n tydelike landingsone afgelaai waar ’n ambulans op haar gewag en haar na die Mediclinic Kaapstad gebring het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.