Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man doodgeskok ná hy glo in onwettige kragdraad vasloop

’n Jong man is Maandagoggend doodgeskok nadat hy glo teen ’n onwettige kragverbinding vasgeloop het.

Daar is bespiegel dat die man self besig was om die verbinding by die Bayland- informele nedersetting, net buite Despatch, aan te lê, maar die polisie het later gesê die slagoffer het teen die laaghangende kragkabel vasgeloop.

Volgens kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, was Luzuko Ndophe (20) Maandag na sy huis onderweg toe hy omstreeks 06:30 in Perseveranceweg teen die kabel vasgeloop het.

Mense het in 2018 plakkershutte by Bayland begin oprig nadat gemeenskapslede geld bymekaargesit het om konstruksiemaatskappye vir hul stootskraperdienste te betaal wat die gebied tussen die R75 en R367 by Despatch ontbos het. Na raming is bykans 2 000 plakkershutte sedertdien opgerig, met verskeie onwettige kragverbindings wat deur middel van hoë houtstrukture vanaf die aangrensende Joe Slovo-nedersetting oor die R75 na Bayland gespan word.

Of jy in die kragdraad vasloop, of net in daardie gebied stap, wat tans baie nat is, is die gevaar van ’n elektriese skok daar.

Beetge het Maandag gesê ’n amptenaar van die Nelson Mandelabaai-metro het die kabels ná die voorval verwyder.

Maar Frans Swanepoel, ’n proporsionele verteenwoordigende raadslid in Despatch, meen dit is slegs ’n kwessie van tyd voordat die onwettige kragverbindings weer aangelê word en nog mense se lewe in gevaar stel.

“Daar word sommer enige draad vir die onwettige verbindings gebruik; daar is geen veiligheidsmaatreëls nie.

“Of jy in die kragdraad vasloop, of net in daardie gebied stap, wat tans baie nat is, is die gevaar van ’n elektriese skok daar.”

Verlede maand het ’n onwettige kragverbinding in die Winnie- informele nedersetting in Despatch die lewe van die agtjarige Chuma Mdayi geëis.

Chuma het na bewering aan ’n oop draad gevat wat op die grond gelê het. Die draad was volgens inwoners deel van die onwettige kragverbindings wat uit die nabygeleë Kingstown- informele nedersetting aangelê is na plakkershutte wat in Winnie opgerig word.

Mongameli Bobani, burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur en ingenieurswese in die metro, het Chuma se familie besoek en voorgeneem ’n program vir kragtoevoer aan plakkershutte sou binnekort begin en die onwettige verbindings sou verwyder word.

Volgens Swanepoel het dié onwettige verbindings in Winnie sedertdien net meer geword.

“Die onwettige kragverbindings moet gestaak word. Daar moet ernstig opgetree word om die kragdrade te verwyder, aangesien die optrede nie net ’n gevaar is vir mense nie, maar ook geweldige druk op die infrastruktuur plaas. “Substasies ontplof omdat dit oorlaai word en dit kos die belastingbetaler duisende rande.”

Bobani kon nie Maandagoggend vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.