Nooddienswerkers van Ekurhuleni het Woensdagmiddag afgekom op die verkoolde lyk van ’n man wat onderstebo aan ’n spantoring in Brakpan hang.
William Ntladi, woordvoerder van Ekurhuleni se rampbestuur, sê die man het sowat 25 m bo die grond onderstebo aan ’n elektriese kabel gehang.
Noodwerkers het omstreeks 16:00 op die toneel in die gebied van die Withok-Wes-landbouhoewes aangekom.
Gereedskap, waaronder ’n saag en ’n skroewedraaier, is op die grond onder die lyk gevind.
Volgens Ntladi is die man vermoedelik doodgeskok toe hy aan die kabels gepeuter het.
Elektrisiëns moes eers die kragtoevoer isoleer om die lyk te verwyder. ’n Gespesialiseerde voertuig met ’n hidrouliese platform is ingespan sodat nooddienswerkers die man kon bereik.
Ntladi het mense weer gewaarsku om nie aan die elektriese infrastruktuur te peuter nie.
“Die oorledene se identiteit is nog nie bekend nie. Dit is onduidelik of hy alleen gewerk het. Die polisie sal die voorval ondersoek,” sê Ntladi.