Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man glo vrou, seuntjie sal herstel ná ernstige beserings

Die Amerikaanse vrou en haar driejarige seuntjie wat deur ’n kameelperd in Limpopo getrap is het “regtig baie, baie seer gekry”, sê Marina Botha, woordvoerder van dr. Katy Williams (35) en haar man, dr. Sam Williams (36) van Hoedspruit in Limpopo.

Katy en Finn is Maandagaand met noodhelikopters van Hoedspruit na die Busamed Modderfontein Private Hospitaal in Johannesburg gevlieg.

’n Span dokters het van Woensdagaand tot vroeg Donderdagoggend etlike ure lank geopereer aan Katy wat veelvuldige beserings oor haar lyf opgedoen het.

Dr. Sam Williams, sy vrou, dr. Katy Williams, en hul seuntjie, Finn (3).

Finn moes Maandagaand al ’n breinoperasie ondergaan om die drukking in sy brein te verlig.

Katy en Finn is albei in die waakeenheid.

Sam het Donderdag beurte gemaak om by sy vrou en hul seuntjie se beddens te waak.

“Sam hanteer dit nou dag vir dag en bly positief dat hulle sal herstel,” sê Botha.

Katy en Finn is laat Maandagmiddag deur ’n kameelperdkoei op die Blyde Wildlife Estate, sowat 15 km buite Hoedspruit, getrap. Wild loop vrylik tussen die huise op die landgoed rond.

Dit is onduidelik presies wat gebeur het toe die kameelperdkoei, wat ’n kalfie van twee maande oud het, Katy en Finn aangeval het.

Riaan Cilliers, bestuurder van die Blyde Wildlife Estate, sê die kameelperdkoei se gedrag is waarskynlik beïnvloed omdat sy ’n jong kalf by haar gehad het.

Williams het gaan draf en toe hy terugkom, het hy afgekom op sy vrou en seuntjie wat deur die kameelperd getrap word.

Botha sê Williams kon die dier verjaag.

Die Williams-egpaar is postdoktorale navorsingsgenote in natuurbewaring en woon al 'n geruime tyd in Suid-Afrika.

Die Blyde Wildlife Estate buite Hoedspruit waar 'n ma en haar seuntjie deur 'n kameelperdkoei getrap is.

“Hulle is só lief vir die natuur en wy hul lewe daaraan. Wat gebeur het, is ’n absolute tragedie,” sê Botha.

’n Wildbewaarder, wat nie genoem wil word nie, sê ’n kameelperd sal in so ’n voorval aanhoudend met haar voorpote trap en met haar agterpote skop.

“Hul pote is so groot soos ’n A4-papier en groter. Die krag waarmee hulle trap en skop is geweldig.”

Kameelperdkoeie is sowat 4 m lank en weeg enigiets van 450 kg af.

Nooddienswerkers van Hoedspruit Medical Rescue en dr. Victor Loftie-Eaton, wat lank as ’n traumadokter gespesialiseer en onlangs ’n praktyk in Hoedspruit begin het, het Katy en Finn aan die lewe gehou. Hulle is per ambulans na ’n vliegveld gehaas waar twee ER24-noodhelikopters hulle na Johannesburg gevlieg het.

Botha sê inwoners van Hoedspruit en vriende van die egpaar het begin om geld in te samel wat kan help met mediese onkoste.

  • In Mei is Carlos Carvalho (47), kameraman en rolprentmaker, dood toe ’n kameelperd hom met die kop geslaan het.
Meer oor:  Dr. Katy Williams  |  Limpopo  |  Hoedspruit  |  Kameelperd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.