Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man gly by waterval – sy vrou gryp, val ook en albei leef

Toe haar man besig was om by ’n waterval se hoogste klipbank af te gly, het MarLouise Pretorius (29) nie vir ’n oomblik gehuiwer om agter hom aan te hardloop nie.

So lyk die klipbank waar die paartjie afgeval het.

Sy het hom aan sy hand gevang, maar só het sy saam met haar geliefde, André (31), by die hoogtes van die Karkloof-waterval in KwaZulu-Natal se Middelland afgeval.

Albei het die val van 35 m oorleef, maar lê nou in die Mediclinic Pietermaritzburg se waakeenheid.

MarLouise is al wakker, maar sy het haar pelvis, skouer, ’n oogbank en haar stuitjie gebreek.

André is nog in ’n koma, want sy longe het erg seergekry.

‘Hy het nie gesien hoe sy ouers val nie.’

Herman Scholtz, sy swaer, sê die dokters vermoed daar is dalk breinskade, maar dit kan nog nie bevestig word nie.

Op die oomblik hou masjiene hom aan die lewe.

“Hy gaan dit maak,” sê Scholtz met hoop. “Hy is baie sportief, fiks en hy rook en drink glad nie. Ek is doodseker hy is sterk genoeg om so iets te oorleef.”

André en MarLouise, wat naby die waterval in Howick woon, was daar saam met ’n groep vriende. André het tot by die hoogste punt gestap om ’n foto te neem van mense wat van die klipbank afspring.

André en MarLouise het die val oorleef toe hulle altwee van die die Karkloof watervalle se hoogste punte afgeval het. By hulle sit hul seuntjie, Liam.

“Baie mense spring daar af,” sê Scholtz. “André het glo op droë gedeeltes gestap. Op pad terug het hy waarskynlik in ’n waterplas getrap. Dit het gemaak dat hy met sy skoene begin gly het.”

MarLouise het naby gesit met hul driejarige seuntjie, Liam.

“Toe sy sien hy begin gly, het sy die kind in ’n vriendin se arms gedruk en dadelik na André gehardloop,” sê Scholtz.

“Ongelukkig kon sy hom nie red nie, maar Liam het ten minste glad nie gesien hoe sy ouers val nie.”

MarLouise word gered.

MarLouise gesels al met haar familie in die hospitaal.

“Haar gemoedstoestand is goed,” sê Scholtz. “Sy lag en sy maak grappies ook. Ons hou almal styf duim vas.

“André is steeds kritiek, maar hy raak al hoe beter. Hopelik gaan ons hom sommer blitsvinnig van die masjiene kan afhaal.”

Volgens Scholtz is die familie besonder dankbaar vir al die hulp wat die gesin ontvang. Liam bly by sy ouma en die gemeenskap bring elke dag vir die familie kos.

André en MarLouise het nie ’n mediese fonds nie, maar die gemeenskap het begin om geld vir die paartjie in te samel.

Shawn Herbst, ’n woordvoerder van Netcare 911, sê wat verlede Saterdag gebeur het, was ’n wonderwerk.

“Ek is verbaas dat hulle dit altwee oorleef het, want dit is ’n besonder gevaarlike area,” sê hy.

Netcare 911 bevestig daar het in Februarie ook ’n man by dié waterval afgeval. Hy het ook wonderbaarlik die val oorleef.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  André Pretorius  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.