Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man ‘het net hond oor’ nadat sy vrou in brand sterf

Christiaan Ströh (48) het glo verstar en verslae toegekyk terwyl bure die vlammehel probeer blus het wat sy tuinwoonstel verswelg het.

Hy het uit die inferno ontsnap en blykbaar gedink sy vrou, Tonja (47), was ook reeds buite – en toe besef sy is nog binne vasgekeer.

Rook het nog lank by die gebrande woning uitgeborrel.

Brandweerpersoneel het Tonja se liggaam later gevind naby een van die deure wat na buite lei.

Omstanders vertel haar hond het eers later deur die tralies by daardie deur uitgevlug gekom.

Hulle vermoed die dier, wat hulle as ’n “soort bokkiehond-kruising” beskryf, het so lank as moontlik by haar gebly, voordat dit binne ondraaglik geraak het.

Ströh en sy vrou het net meer as ’n maand gelede by die tuinwoonstelletjie agterin ’n erf in Môregloed, Pretoria, ingetrek.

Hulle word beskryf as stil mense. Albei het by ’n oproepsentrum gewerk, waar Ströh werwing vir Solidariteit en Tonja werwing vir Solidariteit se Helpende Hand gedoen het.

Woensdag donkeroggend het een van die inwoners in die groter huis voor in die erf wakker geskrik en vlamme deur die tuinwoonstel se venster gesien.

Brandweerpersoneel blus die brand en smeulende meubels binne-in die tuinwoonstel.

Mense so ver as twee huise weg het opgespring en nader gehardloop toe dié persoon om hulp geroep het.

Terwyl sommige bure inderhaas voertuie onder die afdak teen die tuinwoonstel weggetrek het, het ander gehardloop om tuinslange aan krane te koppel en oop te draai.

“Een oomblik slaap jy nog en die volgende oomblik spring jy weg in vyfde rat,” het een dit opgesom.

’n Ander voeg by: “Dit was verskriklik. Skrikwekkend. Ons het nie gille vanuit die woonstelletjie gehoor nie, maar dalk was die geluid van die vlamme te hard, of die vroutjie reeds dood. Die man het by een deur kon uitkom, ek dink die voordeur. Hy het net gestaar. Hy was heeltemal verstar.”

Die vlamme het blitsig versprei. “Ons het probeer om dit te keer, maar ons kon nie,” vertel een van die bure.

Charles Mabaso van die Tshwane-nooddiens sê hulle is net ná 06:00 ontbied. Verskeie brandweervoertuie en ’n ambulans is na die toneel gestuur.

“Brandbestryders het die tuinwoonstel heeltemal verswelg deur vlamme gevind. Die gebrande oorskot van ’n vrou is ná die tyd, nadat die brand geblus is, naby die een deur gevind.”

’n Noodvoertuig staan voor die tuinwoonstel wat skuins agter die groter huis (links) geleë is.

Mabaso sê die oorsaak van die brand word nog ondersoek, maar volgens hul inligting het die man beweer sy vrou het wakker geword en ’n aansteker gevra.

“Hy het dit vir haar gegee en weer gaan slaap, net om later wakker te word met die huis wat brand. Hy het blykbaar by die een deur uitgekom en gedink sy vrou is reeds buite,” het Mabaso gesê.

Ströh is op die toneel vir skok en rookinaseming behandel.

Die Villieria-polisie het ook beraders na die toneel ontbied. ’n Lid van die AfriForum-buurtwag het Ströh en die hond daarna tydelik onder sy vlerk geneem.

Die egpaar se werkgewer het verseker dat daar voorsien is aan Ströh se onmiddellike basiese behoeftes, soos kos, klere, blyplek en kontant.

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het namens die organisasie sy medelye met die familie, vriende en kollegas van die Ströh-egpaar uitgespreek.

“Ons besef enige vorm van verlies is traumaties, veral in hierdie Covid-19-tydperk.

“Ons vra mense om versigtig te wees, na mekaar om te sien en na mekaar uit te reik. Ons moet onthou ons is deel van ’n gemeenskap wat na mekaar se nood omsien,” het hy gesê.

Helpende Hand sal help met verdere traumaberading en ander noodsaaklikhede.

Bure was verlig om dit te hoor.

“Dit is so ’n tragedie. Die man het alles verloor. Hy het niks oor nie. Net die hond.”

Meer oor:  Pretoria  |  Sterf  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.