Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man kom nie terug na SA ná ‘walglike’ video

Adam Catzavelos (39) het “geen onmiddellike planne” om na Suid-Afrika terug te keer nie.

Adam Catzavelos (39)

So sê Adam se pa, George Catzavelos (76), oor sy seun wat die afgelope week in die spervuur was oor sy video waarin hy sy verligting uitgespreek het dat daar “nie een k****r in sig” is op die strand in Griekeland waar hy vakansie gehou het nie.

“Al wat ek kan sê, is dat die storm ons hele familie se lewe in ’n oogwink ten slegste verander het.

“Ons is almal skielik melaatses. Niemand wil met ons geassosieer word nie en ons familiebesigheid is geruïneer. Ons moet ons deure permanent sluit.”

Adam het nie self die video op sosiale media geplaas nie en dit is onduidelik hoe dit op Twitter beland het.

Personeel by die familie- onderneming St George’s Fine Foods het Vrydag ’n verklaring uitgereik waarin hulle pleit dat die restaurante wat hul kontrakte met die familiesaak beëindig het, hul besluit moet heroorweeg.

Die onderneming vervaardig voorbereide souse en marinades vir die restaurantbedryf.

‘Ons is almal skielik melaatses.

Volgens die verklaring is hulle finansieel hiervan afhanklik en word hulle nou gestraf vir Adam se optrede.

Hulle voer aan dat George en Nic, Adam se broer, nie rassisties is nie en dat hulle altyd hul werknemers “soos familie behandel het”.

Die werkers sê dit sal hartseer wees as die onderneming moet sluit weens ’n enkele persoon se optrede.

Adam het Vrydag ’n verklaring uitgereik waar hy verskoning vra vir sy “ondeurdagte video”.

“Ek verwag nie mense moet my vergewe nie, maar ek sal die res van my lewe berou hê en probeer opmaak vir my gebrek aan respek en oordeel.

“Ek was roekeloos en onsensitief en het ’n gebrek aan begrip getoon vir dit wat ons nasie moes deurmaak. Ek het so baie van my mense beledig. Ek is nie trots daarop nie.”

Hy het ook sy familie, sy ouers, sy vrou en sy kinders om verskoning gevra.

Sy seun se skool het Dinsdag in ’n brief aan ouers gesê hulle duld nie rassisme nie en Catzavelos is nie welkom by die skool nie.

Adam se broer Nic het Woensdag in ’n verklaring namens die familieonderneming die video as “afstootlik” beskryf en gesê die familie distansieer hulle van sy uitlatings – en hy is summier ontslaan.

Die EFF het Woensdag ’n strafregtelike klag van rassisme teen Catzavelos by die polisiekantoor in Bramley, Johannesburg, ingedien.

Die Menseregtekommissie het ook gesê hy gaan die saak ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.