Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man kry ná 10 j. sy geld vir motor

’n 49-jarige man wat ’n dekade gelede met ’n plaasbestuurder se motor verkas en nooit daarvoor betaal het nie, se “geheue” is skynbaar verfris toe hy die afgelope week gehoor het dat AfriForum se private vervolgingseenheid op sy spoor is.

Cassie Snyders Foto: Edrea du Toit

Woensdag het Johan (Basie) Basson in die teenwoordigheid van die polisie belowe om die R18 000 “en ’n bietjie meer” te betaal wat hy Cassie Snyders (54) vir sy 1989 Volkswagen Jetta skuld.

Dis net mooi tien jaar nadat Snyders, die bestuurder van ’n druiweplaas buite Hermon naby Riebeek-Wes, gereageer het op ’n koerantadvertensie waarin Basson, voertuie gesoek het om aan te koop.

Volgens Snyders het Basson en nog iemand na die motor kom kyk.

Basson het dit vir ’n “toetsrit” gevat en lank weggebly. Die ander persoon het toe “gaan kyk waar Basson so lank bly” en ook weggebly.

Snyders sê hy het Basson later op sy selfoon opgespoor. Basson se storie was glo “volgens sy mechanic, is die pistons in hul moer”.

Snyders sê egter die Jetta was pas gediens en daar was geen fout nie.

‘Basie het elke keer ’n ander storie gehad?.?.?.'

Toe hy Basson later weer bel, het Basson gesê hy moenie hard praat nie want hy (Basson) was in die bank, besig om Snyders se geld oor te betaal. Geen sent het egter ooit in Snyders se bankrekening beland nie.

“Basie het elke keer ’n ander storie gehad . . . dan moet ek hom by ’n kruising kry, dan daag hy nie op nie. My oorlede werkgewer het meer as een keer saam met my gaan wag. Die ou man het die ding so aangevoel . . .” sê Snyders.

Hy het toe ’n diefstalklag ingedien. Eers het die polisie gesê hy moet dit in Malmesbury doen, toe word hy gestuur na Riebeek-Wes.

“Ek het gereeld navrae gedoen en elke keer is ek gesê dat die ondersoekbeampte nie daar is nie of dat ek ’n prokureur moet kry, want dis ’n siviele klag. Ek kon nie ’n prokureur bekostig nie.”

Uiteindelik het hy gehoor die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het besluit om nie vir Basson aan te kla nie.

Johan (Basie) Basson, soos hy in die klaer se lêer verskyn.

Verlede Januarie het ’n vryskutjoernalis op ’n buurdorp, Samuel Walters, Snyders gehelp om hulp te soek by AfriForum.

Dié burgerregte-organisasie se eenheid vir private vervolgings het aan die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging geskryf en dié het toe die dossier van die polisiekantoor in Riebeek-Wes aangevra.

Toe Rapport Basson Woensdag daarvan vertel, het hy baie verbaas geklink en aanvanklik heftig ontken dat hy Snyders ken. “Dis ’n malligheid. Ek is verstom!” het hy gesê.

Hy is egter toe reguit Riebeek-Wes toe van waar hy saam met ’n polisielid plaas toe is om vir Snyders te gaan spreek.

Snyders het later laat weet hulle het ’n ooreenkoms bereik en Basson gaan hom betaal.

Adv. Gerrie Nel, wat AfriForum se vervolgingseenheid lei, sê dié saak is ’n sprekende voorbeeld van hoe druk deur die media en hul kantoor daartoe kan lei dat geregtigheid geskied.

“Ons het vanoggend verneem dat die verdagte ’n aanbod gemaak het vir die betaling van die voertuig. Ons besef dat die strafregstelsel nie misbruik moet word as ’n skuldinvorderaar nie, maar ons meen tog dat in die betrokke saak die aanvaarding van die betaling regverdigbaar is.”

Hy sê die NVG het geweier om Basson te vervolg omdat die ondersoekwerk in die saak gebrekkig was.

“Ons meen dat die geskiedenis van die saak ’n oplossing regverdig,” sê hy.

Basson het Rapport na sy huis genooi om sy kant van die saak te stel, maar sy prokureur, Buks van der Schyff, het toe dié afspraak gekanselleer. Volgens hom ontken sy kliënt alle aantygings teen hom. Al wat hy wil sê, is dat sy selfoon destyds geblok was en hy nooit ’n “gesoekte” persoon by die polisie was nie.

Meer oor:  Cassie Snyders  |  Basie Basson  |  Johan Basson  |  Afriforum  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.