Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man nog in waaksaal ná rower hom skiet

Hoewel ’n Rustenburgse rekenmeester steeds in die waakeenheid van ’n hospitaal is nadat hy Saterdag deur ’n rower geskiet is wat by sy bure se huis ingebreek het, word sy verdowing stelselmatig verminder.

Die egpaar Abel en Lizelle Pienaar. Foto: Facebook/ Lizelle Pienaar

Abel Pienaar (42) is Maandag vir die tweede keer geopereer nadat hy Saterdag in die vroeë oggendure in die maag geskiet is.

Sy dunderm is in die voorval beskadig en sy bekkenbeen het versplinter.

Netwerk24 het vroeër berig Pienaar is omstreeks 01:30 in ’n kompleks in die buurt Safari-Tuine geskiet toe ’n inbreker van sy bure na sy huis gevlug het.

Abel PienaarFoto: Verskaf

Pienaar het die gesin se budjie, Buddy, buite gaan haal nadat hulle hom daar vergeet het.

Toe hy die voël neersit, was die man in sy huis en het dié ’n skoot afgevuur, wat hom gemis het. Pienaar is egter raakgeskiet toe die man gevlug en hy hom agternagesit het om hom van die perseel te verdryf. Die man is een van vermoedelik drie mense wat by die bure ingebreek het.

Abel Pienaar (42) is steeds in die waakeenheid nadat hy Saterdag in die vroeë oggendure deur ’n rower geskiet is.Foto: Verskaf

Lizelle Pienaar (41), sy vrou, sê twee gedeeltes van Pienaar se dunderm is met die operasie verwyder en die derm is weer geheg. Die wond is nog oop sodat onder meer vasgestel kan word of die derm normaal werk.

Lizelle is nie seker of die koeël wel Maandag verwyder is nie. Dit is ook onduidelik watter behandeling vir sy bekkenbeen voorlê.

Pienaar is Maandag omstreeks 10:00 by die teater ingestoot en ongeveer 14:00 weer uit.

“Ek weet nie of hulle hom heeltemal van verdowing sal afhaal nie, weens die wond.”

Buddy die budjie. Foto: Verskaf

Sy sê hy kan op sy eie asemhaal, maar die ventilator is daar vir ondersteuning.

Pienaar se bloeddruk is hoog en word gemonitor. Hy ly nie normaalweg aan hoë bloeddruk nie en sal op medikasie geplaas word indien dit voortduur.

Lizelle sê dit is vir die res van die gesin moeilik om hom nie by die huis te hê nie. Die egpaar het drie kinders van tien, 14 en 19 jaar oud. “Hy is maar ons steunpilaar.”

Die res van die gesin het op die boonste verdieping van hul dupleks-woonstel geslaap toe die voorval gebeur het.

“Die kinders is rustig. Ons hou by hul roetine, sodat hulle nie verder ontwrig word nie.”

Ook hul mopshondjie, Pugsley, was vir twee dae nie homself ná die voorval nie, sê sy. Dié hondjie van nege maande oud was saam met hulle bo in die woonstel. Dit gaan nou beter met Pugsley en dit gaan ook goed met Buddy.

Die egpaar het nog nie ná die voorval met mekaar kon praat nie en Lizelle sê dit sal beter gaan sodra hy kan kommunikeer.

“Verder lyk hy vir my goed. Ons moet net aanhou bid en ek glo hy gaan beter word.”

Die polisie in Noordwes het bevestig niemand is nog in verband met die voorval vasgetrek nie.

* Die voorval kom nadat Gerald Spalding (54) verlede Donderdag vier keer in ’n gewapende rooftog in Rustenburg geskiet is. Die polisie ondersoek die moontlikheid dat die voorvalle met mekaar verband kan hou.

Meer oor:  Hospitaal  |  Rower  |  Geskiet  |  Huis  |  Bure  |  Waakeenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.