Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Ek sou doodbloei' - Gerald vertel self oor 5 rowerskote

WAARSKUWING: Die berig bevat 'n foto wat sensitiewe lesers kan ontstel.


   

“Adrenalien, krag van bo en die wil om te leef” het Gerald Spalding (54) in staat gestel om ondanks die pyn van vyf rowerskote deur te druk en hulp te gaan soek.

So het Spalding Vrydag vir die eerste keer self beskryf waardeur hy is nadat ’n rower hom op 6 Februarie in sy huurhuis in Rustenburg oorval, beroof en vyf keer geskiet het.

“Die rower het vir my gesê ek is stupid, maar hy was seker ook bang ander mense het die skote gehoor en het toe gevlug. Ek is bly en geseënd om te leef; dit sou nie so gewees het as my wil om te leef nie sterker was as die moontlikheid om te sterf nie.”

Spalding het ná die rooftog in die vroeë oggendure, en ondanks erge pyn en bloeding, self in sy Land Cruiser geklim en etlike kilometer na ’n vriendin se huis gery waar hy in die straat stilgehou en getoet het om aandag te trek.

“Ek het besef ek gaan doodbloei as ek nie self gaan hulp soek nie.”

Gerald Spalding sterk tuis aan nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Hy dra ’n stut wat mense gewoonlik gebruik wanneer hulle oefen, maar hier om te keer dat sy steke lostrek.

’n Ambulans en die polisie is kort daarna ontbied en Spalding het ure later ’n noodoperasie in die Job Shimankana Tabane- provinsiale hospitaal in Rustenburg ondergaan om die skade aan sy diafragma en ingewande te herstel.

Daar is eers gemeen hy is vier keer geskiet; in die maag, een long, skouer en linkerarm. Spalding se broer, Pieter Henning, het egter Vrydag vertel hulle het eers nadat hy ontslaan is, gesien nóg ’n skoot is by sy linkerboud in en uit. “Dis net ’n vleeswond, maar niemand het dit blykbaar raakgesien nie omdat Gerald in die hospitaal heeltyd op sy rug gelê het. Ek het dit die eerste keer gesien toe ek hom by die huis begin help om rond te beweeg.

“Gerald se vasberadenheid en wilskrag is ongelooflik.”

Henning moes die dag nadat sy broer ontslaan is, met hom na dr. Christo Serfontein in Rustenburg jaag omdat van die kramme waarmee die wond in sy maag geheg is, losgetrek het. “Dr. Serfontein het die wond weer met steke geheg.”

Spalding sê hy is nog baie swak nadat hy vir 19 dae in die hospitaal was. “Ek kan nog niks vir myself doen nie. Alles (in my) is deurgeskiet en deurgesny, maar die pyn is goed onder beheer. Ek gaan nog baie rehabilitasie nodig hê, maar my familie ondersteun my ongelooflik.”

Gerald Spalding Maandag nadat hy uit die hospitaal ontslaan is.

Hy kan al klein entjies met ’n loopraam loop. Sy eetlus is ook terug. Spalding, sy broer (Henning) en hul suster, Anne Spalding, gaan nou by hul neef Ashley Malan in Rustenburg tuis.

Spalding se spysverteringstelsel het een van die koeëls wat in sy ingewande was, self uitgewerk. Die koeël naby sy long gaan vir eers nie verwyder word nie omdat ’n operasie onnodige skade sal aanrig en dit nie op ’n lewensgevaarlike plek sit nie. Hy sal waarskynlik op 3 Maart hoor óf en wanneer sy linkerarm wat gebreek het toe ’n koeël daardeur is, geopereer sal word. Die arm is nog in ’n stut en baie pynlik.

Spalding het Vrydag gesê hy gaan steeds na Kanada emigreer soos hy vóór die rooftog besluit het. “Ek behoort in Mei goed genoeg te herstel het om te kan gaan. Ek het reeds ’n werkaanbod daar.”

Spalding, ’n inligtingstegnologie-deskundige, sê hy gaan ter wille van werk Kanada toe. “Ek is vier jaar gelede by Anglo American afgelê nadat ek vir 21 jaar daar gewerk het. Sedertdien kon ek weens die ekonomie, politiek en die feit dat ek ’n 54-jarige wit man is, nie weer werk kry nie.”

Sy familie gaan binnekort ’n geldinsamelingsprojek vir hom begin om sy nasorg en rehabilitasie te help betaal, omdat hy nie ’n mediese fonds het nie.

Die rower wat hom geskiet en met sy skootrekenaar en selfoon weggekom het, is nog op vrye voet, sê kapt. Elsabé Augoustides, polisiewoordvoerder in Rustenburg.

Gerald Spalding in sy Land Cruiser nadat hy geskiet is en self gaan hulp soek het.

Meer oor:  Gerald Spalding  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.