Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man op slag dood in ongeluk ná moord op vrou en dogter

’n Sassa-werknemer van Bela-Bela en haar tienerdogter is Dinsdag vermoedelik deur haar man verwurg.

Nkakareng Rakgoale, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Limpopo, sê sy is geskok oor die moorde op Thandi Mathebula (39), wat in die Sassa-kantoor in Bela-Bela gewerk het, en haar dogter, Sharon (17).

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê bure van Mathebula het Dinsdag omstreeks 16:00 onraad vermoed toe sy nie die deur van haar huis in Uitbreiding 8 vir hulle oopgemaak het nie. Hulle het deur ’n venster gekyk en haar lyk op die kombuisvloer gesien lê.

Die polisie is ontbied, waarna die deur afgebreek is. Sharon se lyk is in ’n slaapkamer in die huis gekry.

Die wrak van die motor waarin ’n man Dinsdagmiddag buite Bela-Bela reg van voor in ’n vragmotor vasgery het. Foto: SAPD

Mojapelo sê albei is verwurg, maar die presiese tyd van die moorde is nog nie bekend nie.

Volgens Mojapelo is Mathebula se 37-jarige man Dinsdagmiddag op slag dood toe hy in sy motor op die R516-pad tussen Bela-Bela en Rooiberg reg van voor in die aankomende verkeer in ’n vragmotor vasgejaag het. Hy was Sharon se stiefpa.

“Ons weet nie wat die motief vir die moorde was nie, maar dit was vermoedelik deel van gesinsgeweld,” sê Mojapelo.

Thandi Mathebula (39) is Dinsdag deur haar man verwurg in hul huis in Bela-Bela in Limpopo.

Die polisie ondersoek twee klagtes van moord en ’n saak van strafbare manslag.

Rakgoale sê daar was nie minder nie as 12 moorde op vroue en kinders die afgelope twee weke gedurende die regering se 16 dae lange veldtog teen die geweld teen vroue en kinders. Die veldtog het Dinsdag geëindig.

“Dit is kommerwekkend dat die moorde en geweld voortgaan ondanks die regering se veldtog om ’n bewustheid te skep om vroue en kinders te beskerm.”

Op die eerste dag van die veldtog is afgekom op die lyk van Precious Ramabulana (21), ’n student aan die TVET-kollege in Botlokwa, sowat 40 km noord van Polokwane. Sy is meer as 50 keer met ’n mes gesteek. Haar lyk is gevind in ’n kamer wat sy naby die kampus gehuur het.

Aubrey Manaka (28) is weens die moord op Ramabulana in hegtenis geneem en bly in aanhouding totdat hy op 30 Januarie weer in die landdroshof in Morebeng verskyn.

Meer oor:  Sassa  |  Bela-Bela  |  Motorongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.