’n Man wat Donderdagmiddag met ’n mes in sy maag gesteek is, het die einste mes uitgeruk en paramedici wat hom kom help het met ’n verfbalgeweer begin skiet.
Twee nooddienswerkers van ER24 het Donderdag by ’n huis in Glenwood, Durban, aangekom om ’n 43-jarige man te help wat met ’n mes in sy maag gesteek is. Volgens sy vrou het hy homself gesteek.
Die vrou en haar dogter het hulle na die kombuis geneem waar die man met sy meswond was. Volgens ’n verklaring deur ER24 het die man toe die groot mes uit sy maag getrek en hulle begin dreig. Hulle het bykomende hulp na die toneel ontbied, maar oomblikke later het die beseerde man hulle met ’n verfbalgeweer begin skiet.
Die nooddienswerkers het agter die ambulans geskuil en is nie beseer nie.
Die man het later bedaar, maar hy het behandeling vir sy meswond geweier. Hy het uiteindelik ingestem om met ’n ander ambulans hospitaal toe te gaan.
Die saak is by die Umbilo-polisiekantoor aangemeld.
Volgens die polisie het hulle omstreeks 17:30 op 'n oproep gereageer nadat 'n man wat vermoedelik nie by sy volle positiewe was nie paramedici aangeval het. Die polisie kon daarin slaag om die man te kalmeer en het hom na die hospitaal vergesel.

’n Man wat met ’n mes in sy maag gesteek is, het met dié verfbalgeweer op twee paramedici van ER24 geskiet toe hulle hom wou help. Foto: Verskaf