Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man red hond se lewe met mond-tot-mond-asemhaling

´n Jong man het nie twee keer gedink toe hy Donderdagoggend op ’n bewustelose klein hondelyfie afgekom het in ’n huis wat met rook gevul was nie: Stephan Moulder (22) het dadelik mond-tot-mond-asemhaling toegepas en sodoende Cheeky, ’n vierjarige Yorkshire-terriër-tefie, se lewe gered.

“Ek dink ons het haar net betyds gekry. Die hondjie sal fine wees – sy sal dit maak,” sê hy.

Cheeky is intussen na die veearts geneem waar sy verder vir rookinaseming behandel is. Sy kan later die dag huis toe gaan.

’n Brand het Donderdagoggend in Pierre Gouws (70) en sy vrou, Juria (51), se huis in Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, uitgebreek.

Cheeky, die vierjarige Yorkshire-terriër, wat mond-tot-mond-asemhaling ontvang het van ’n jong man wat haar lewe gered het.Foto: Verskaf

Magda Lewis, AfriForum-takvoorsitter in Bronkhorstspruit, het omstreeks 07:45 die rookwolk in die lug sien hang. Sy het haar na die toneel gehaas om hulp aan te bied.

Volgens Pierre het die brand in die motorhuis ontstaan, maar die oorsaak daarvan is nog nie bekend nie.

“Die krag was af en die kragopwekker het gehardloop – meer as dit weet ek nie.”

Die brand het na dele van die huis versprei en groot skade aangerig.

“Twee motorhuise met die voertuie daarin het heeltemal uitgebrand. Die huis se dak het in die eetkamer en slaapkamer ineengestort en dit is daarmee heen,” sê Pierre.

Net sy vrou was by die huis. Sy is na die hospitaal geneem en vir rookinaseming behandel.

Stephan Moulder, die held wat vir Cheeky die Yorkshire-terriër gered het. Foto: Verskaf

Stephan, ’n patrolleerder van die AfriForum-buurtwag in Bronkhorstspruit, was ook op die toneel toe hy hoor daar is ’n hond in die huis wat in daardie stadium vol rook was.

Hy het saam met ’n groep mense ingegaan en oral na Cheeky gesoek totdat hy uiteindelik onder ’n kas in die badkamer op haar afgekom het.

Volgens haar mensepa is sy ’n “klein dingetjie” en weeg so twee kilogram. Pierre was teen Donderdagmiddag vroeg nog nie daarvan bewus dat Stephan sy hondekind gered het nie, maar baie dankbaar toe hy dit hoor. Hy sê al vier hul honde is soos hul kinders.

“Haar lyfie was heeltemal pap – ek het gedink sy is dood. Haar ogies was toe en haar tongetjie het by die mond uitgehang,” sê Stephan.

Hy het die hond vinnig opgetel en haar na buite op die stoep geneem waar hy dadelik begin het om haar te probeer bybring.

Die huis van Pierre en Juria Gouws in Bronkhorstspruit in ligte laaie. Foto: Verskaf
Hier brand dit nog in ’n gedeelte van die huis van die Gouws-egpaar. Foto: Verskaf

Stephan verduidelik hy het presies dieselfde prosedure gevolg as wat hy op ’n mens sou doen.

“Ek het haar mondjie oopgemaak en mond-tot-mond-asemhaling gedoen om die hond te probeer red. Ek het op die bors gedruk en gevryf, asook die gesiggie natgemaak met water.”

Cheeky het so drie of vier minute later bygekom en ’n bietjie water gedrink. Daarna het Stephan haar in ’n kombersie toegedraai en haar vir Juria gegee.

Lewis van AfriForum het die heldedaad aan Netwerk24 bevestig. “Dit is die eerste keer wat Stephan sy kennis in noodhulp op ’n dier toepas, en as hy dit weer moet doen, dan sal hy,” sê sy.

“Ek is lief vir diere en kon haar nie net so los nie. Ek het al voorheen honde gehelp, maar nog nie op dié manier nie.

“Die vrou (Juria) was so histeries oor die hondjie en toe ek vir haar sê ons het die hondjie gered, was sy in trane,” sê Stephan.

Meer oor:  Bronkhorstspruit  |  Hond  |  Huisbrand  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.