Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man se lyk in Hennopsrivier gekry

Sondagaand het Danie McMaster (27) se suster gebid dat hy net verdwaal het en “nie deur die rivier gevat is nie”.

Maandagoggend het Michelle Gerber egter die hartverskeurende nuus gekry: Die lyk van ’n man wie se beskrywing ooreenstem met dié van haar jonger broer, is in die Hennopsrivier by die Zwartkop-gholfbaan in Centurion gekry.

“Ek het so gehoop dat hy iewers (in die rivier) iets kon raakgryp en uitkom, maar die stroom was blykbaar baie sterk,” sê Gerber met ’n verslae stem.

Hoewel die Hennopsrivier teen Maandag nog sterk gevloei het, het die polisie en honde-eenheid hul soektog na Danie McMaster voortgesit totdat sy lyk verder af in die rivier gevind is.

McMaster, wat in Centurion gebly en vir ’n veiligheidsmaatskappy gewerk het, en ’n vriend was glo Saterdagoggend in die vroeë oggendure op pad terug huis toe en hy is vermoedelik van ’n laagwaterbrug af meegesleur. Die rivier was in vloed nadat swaar reën Vrydagnag oor Pretoria en Centurion uitgesak het.

Kapt. Dave Miller, polisiewoordvoerder, sê die Lyttelton-polisie is Saterdagoggend vroeg ingelig dat ’n man by die laagwaterbrug vermis geraak het.

“Die man was na bewering ’n passasier in ’n voertuig wat op die laagwaterbrug by End- en Rabiestraat gaan staan het.

Lede van die polisie se soek-en-reddings- en honde-eenheid fynkam die Hennopsrivier saam met polisieduikers en ’n polisiehelikopter.

“Die bestuurder het glo oor die brug oor die Hennopsrivier probeer ry, maar die insittendes het besef die water spoel te sterk oor die brug. Die bestuurder het die voertuig probeer omdraai, maar dit het gaan staan. Hulle het uitgeklim, maar net die bestuurder kon veilig uitkom,” sê Miller.

Daar was geen teken van McMaster nie. Lede van die Bronkhorstspruit-polisie se honde-eenheid, polisieduikers en die lugvleuel het saam met die Lyttelton-polisie die rivier, wat steeds in vloed was, gefynkam. Die soektog moes egter in ’n stadium gestaak word omdat die rivier nog te sterk gevloei het en dit gevaarlik vir die reddingspanne en -honde geraak het.

“Maandagoggend het hulle weer die rivier en oewer begin fynkam. Die spanne was so halfpad op pad na die gholfbaan toe hulle inligting kry van ’n lyk in die rivier by die gholfbaan,” sê Miller.

Gerber sê sy is eers Sondag daarvan ingelig dat haar broer vermis was.

“Ek is Danie se enigste familie in die omgewing en hulle kon nie ons (Gerber of haar man se) kontakbesonderhede voor Sondag in die hande kry nie. Die vrou van een van Danie se kollegas het ons gebel en gesê daar was ’n voorval by die laagwaterbrug en hulle kan nie vir Danie kry nie. Sy foon en alles was af. Ek en my man en my neef het dadelik soontoe gery,” sê Gerber.

“Die polisie en duikers was reeds daar. Hulle was uitstekend.”

Lede van die Bronkhorstspruit-polisie se honde-eenheid, polisieduikers en ’n polisiehelikopter het Maandagoggend steeds na Danie McMaster gesoek.

Sy sê sy het die heeltyd gepleit dat haar broer net gevind word.

“Ek het in ’n stadium gesê as ons dan net ’n lyk kan kry, as hy nie meer lewe nie – dat ’n mens nie vir ewig wonder wat gebeur het nie. Maar ek het steeds gehoop hy kon uitkom.”

Maandagoggend is hulle saam na die toneel waar die lyk in die rivier opgemerk is. Gerber se man het nader gegaan, terwyl sy op ’n afstand gewag het.

En toe moes sy haar ouers met die nuus bel.

Die pamflet wat kort ná Danie McMaster se verdwyning versprei is. Foto: Facebook/Michelle Gerber
Meer oor:  Hennopsrivier  |  Centurion  |  Lyk Gevind  |  Polisie-Ondersoek  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.