Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat die lyk van ’n 41-jarige man van Kaapstad in die wrak van ’n motor aan die voet van die Outeniekwaberge by George gevind is.
Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, sê die man se lyk is Sondag omstreeks 18:20 deur reddingspanne uit die wrak gehaal.
Spies sê volgens inligting wat die polisie bekom het, is die man Vrydag in Kaapstad as vermis aangemeld nadat hy nie soos verwag by sy werkplek opgedaag het nie. Dit is nie bekend gemaak waar hy gewerk het nie.
Na bewering is die man die laaste keer in George gesien waar hy vroeër op ’n amptelike sakebesoek was en in ’n amptelike voertuig gesien is.

'n Uitkykpunt op die Outeniekwapas naby George.
Volgens Spies is die voertuig deur middel van ’n opsporingstoestel in die Outeniekwapas opgespoor. “ ’n Soek- en reddingspan is uitgestuur en die voertuig is aan die onderkant van die berg gevind.”
Dit is nog nie bekend hoe die ongeluk plaasgevind het nie. Spies sê die voorval word ondersoek. ’n Lykskouing sal later vandeesweek gehou word.
Volgens Spies sal die man se identiteit bekend gemaak word wanneer sy naasbestaandes van sy dood ingelig is.