Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man se podsending onthul ‘molestering’

’n Podsending waarin ’n Johannesburgse kopieskrywer beweer hy en ander minderjarige seuns is 20 jaar gelede deur ’n onderwyser en sakeman gemolesteer en verkrag, maak opslae.

Die kopieskrywer Deon Wiggett publiseer die bewerings in 'n podsending op sy eie webwerf, My Only Story.

Die podsending is in samewerking met News24 opgeneem en word ook op hul webblad gedra.

Wiggett sê in die eerste podsending dat sy pa se dood in 2017 ’n klompie opgekropte herinneringe na die oppervlak laat kom het – ook herinneringe aan ’n man wat volgens hom geensins soos sy pa was nie.

Hy neem luisteraars terug na 1997, sy laaste hoërskooljaar, toe hy na bewering deur ene Jimmy* verkrag is.

Foto: Facebook / My only story

Volgens Wiggett was Jimmy in ’n stadium ’n “uitmuntende onderwyser”.

“Hy het ’n ander tipe energie (as onderwyser) gebring – ’n vars briesie,” sê een oudleerling waarmee Wiggett onderhoude gevoer het in die podsending.

Wiggett beskryf Jimmy as “erg onaantreklik”.

“Ek was nie Jimmy se enigste teiken nie, en nie die enigste oorlewende nie. Ek was een van die seuns wat hy wou hê, maar nie ’n afwyking of ’n onreëlmatigheid nie. Dit was (vir Jimmy) nie vreeslik buitengewoon toe hy my op 17 in die mond verkrag het nie.”

Wiggett sê vroeg sy storie is nie ’n storie van “verkragting en molestering nie” en dat hy en die ander mans met wie hy onderhoude gevoer het, nie in besonderhede daarop gaan ingaan nie.

Hy sê dit gaan eerder daaroor of dit moontlik is om ’n “ou soos Jimmy” voor die Desember-vakansie vanjaar vas te trek en sy dade openbaar te maak.

Volgens Wiggett was somervakansies “nog altyd ’n betowerende tyd vir Jimmy”.

Wiggett het met sy ondersoek in Januarie vanjaar begin deur al Jimmy se sosialemediarekeninge te fynkam en nog moontlike slagoffers te probeer opspoor.

Hy sê al die jonger mans op Jimmy se foto’s het ’n spesifieke voorkoms – “slim, vriendelik en skoongesig”. Foto’s getuig glo van oorsese reise en vakansies op die kusdorp waar Jimmy graag uitspan.

Wiggett reël toe ’n vergadering met ’n moontlike slagoffer, Mike*, maar die afspraak was nie suksesvol nie. Volgens Wiggett sien Mike op hom neer, maar is hy in werklikheid “vreesbevange” oor wat sal gebeur as Jimmy moet uitvind hy het met die sak patats vorendag gekom.

Wiggett kom met behulp van sosiale media agter Jimmy noem nie die eerste sewe jaar van sy beroepslewe nie, waartydens hy ’n onderwyser by ’n toonaangewende seunskool was.

Wiggett besef dan dit is veral op hierdie sewe jaar waarop hy in sy ondersoek moet fokus.

Hy gaan nou vir die res van die maand elke Donderdag ’n podsending uitreik. Namate sy eie ondersoek ontvou, wil hy uiteindelik Jimmy se identiteit bekend maak.

Jenny Griesel, skakelbeampte, het namens Wiggett gesê hy werk “deur die formele kanale” en met News24 se regspan. Die antwoord oor “formele kanale” was op ’n direkte vraag of Wiggett ’n klag by die polisie ingedien het, of die polisie by sy ondersoek betrek.

* Skuilname

Luister hier na die podsending.

* Op regsadvies word hierdie artikel nie vir kommentare oopgestel nie.

Meer oor:  News24  |  Deon Wiggett  |  Podsending  |  Molestering  |  My Only Story
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.