Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man skrik vir padvalk, sterf

’n Jong man van die Vaaldriehoek het so groot geskrik toe verkeerskonstabels hom voorkeer om vir sy rybewys te vra, dat hy net daar ’n toeval gehad en gesterf het.

Alice de Jager (links) en haar dogters, Frances en Jo-Lee. Foto: Deon Raath

Loydd de Jager (22) se familie vermoed hy het ’n hartaanval gehad. Hy het Maandagoggend sy twee susters, Frances (18) en Jo-Lee (12), in Vanderbijlpark met sy bakkie skool toe gevat toe hulle in ’n roetine-padblokkade voorgekeer is.

Frances sê Loydd was dié oggend in ’n goeie bui. “Hy was mal oor Karlien van Jaarsveld se liedjies,” sê sy. “Ons het dit in die bakkie gespeel, lekker saamgesing en grappies gemaak daaroor. Ons het almal lekker gesit en lag.”

Toe hulle voorgekeer word, was daar ook geen probleme nie. Dit was ’n gewone kontrolepunt en die verkeerskonstabels het maar net vir sy rybewys gevra, sê Frances.

Sy lippe het begin blou word.

“Loydd het nog vir ons geglimlag, sy beursie uitgehaal en dit oopgemaak,” sê Frances. “Vir een of ander rede was die lisensie nie daar nie. Hy was tjoepstil. Skielik het sy gesig bleek geword, sy lyf het begin skud en sy mond het geskuim. Ek wou hom vashou, maar daar was min spasie in die bakkie.”

Toe gryp Loydd sy hart vas. Frances het uitgespring, hom uit die bakkie getel en hom vasgehou in die hoop dat hy sal ontspan.

“Sy gesig was spierwit, sy lippe het begin blou word en hy het glad nie meer asemgehaal nie,” sê Frances. “Jo-Lee was histeries. Sy het gesien hoe hy in my arms doodgaan.”

Dood: Loydd de Jager (22) Foto: Facebook

Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni-munisipaliteit, sê die verkeerskonstabels was ewe geskok.

Frances sê Loydd het die laaste tyd baie spanning beleef. Hy het in Julie sy werk as ’n loodgieter in Rustenburg verloor. Sy ouers, Johan en Alice de Jager, is besig om te skei en Alice en die twee dogters het vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se skuiling in Vanderbijlpark gaan woon.

Toe Loydd afgelê is, het hy ook daar gaan bly. Sedert verlede week het hy vir die skuiling begin werk.

“Hy was ’n sterk gesinsman vir ons en hy het altyd gehelp. Hy het nie eens gerook of gedrink nie. Hy was ’n ordentlike ou,” sê Frances.

Loydd lê dood op straat langs sy bakkie, terwyl sy ma en susters mekaar vertroos. Foto: Ettienne van Rensburg, Vaalweekblad

Loydd het vier jaar gelede ’n epileptiese aanval gehad.

“Hy het nooit weer daarna dokter toe gegaan nie en hy het opgehou om sy pille te koop,” sê Alice. “Ek is seker dít was ’n deel van sy probleem.”

Frances sê hy het voorheen soortgelyke toevalle gehad, maar “dan het ek net sy hart gevryf tot dit beter word”.

Moira de Jager, sy tannie, sê Loydd was verskriklik puntenerig oor sy besittings. “As hy sy goed verloor, was hy ontsteld,” sê sy.

Loydd word Maandag begrawe. Intussen het vriende begin om geld in te samel vir die gesin se uitgawes.

jaco.nel@rapport.co.za

Meer oor:  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.