Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Petrolbom: Man steeds onder verdowing ná aanval

Bernard Groenewald (49), die eienaar van ’n vervoermaatskappy in die Paarl, word steeds onder verdowing gehou in die Mediclinic Worcester nadat hy Sondagoggend 60% tot 70% se brandwonde oor sy lyf opgedoen het toe ’n petrolbom na die vragmotor wat hy bestuur het, geslinger is.

Groenewald en sy vrou se swaer, Jan Jansen (59), ook ’n vragmotorbestuurder, het Sondagoggend langs die N1 by Touwsrivier afgetrek om die nag daar in hul vragmotors deur te bring

Bernard en Ciska Groenewald. Foto: Facebook

Die petrolbom is deur die vensters van Groenewald en Jansen se vragmotors gegooi, en Groenewald het ernstige brandwonde opgedoen, asook sy enkel gebreek toe hy uit die vragmotor gespring en deur ’n groep mense gejaag is wat nog ’n petrolbom na hom gegooi het.

Jansen het daarin geslaag om sy vragmotor aan die gang te kry, en is nie beseer nie. Jansen het Bernard se vrou geskakel en haar gevra om dringend hulp te ontbied.

Paramedici van ER24 het Groenewald gevind waar hy langs die pad gelê het. Hulle het hom op die toneel behandel en hom toe na die hospitaal geneem.

Volgens Ciska Groenewald (50), Bernard se vrou, het hy Sondagaand in die waakeenheid deurgebring, en is sy toestand nog onstabiel.

“Omdat hy in die waakeenheid is, kan ek nie die heeltyd by hom wees nie. Ek is toe maar huis toe om te probeer rus,” sê Ciska.

Bernard Groenewald se vragmotor in ligte laaie nadat dit met ’n petrolbom gegooi is. Foto: ER24
Bernard Groenewald (49). Foto: Facebook

Sy sê Jansen het nie fisieke beserings opgedoen nie, maar is emosioneel erg geraak.

Sy sê ook diefstal kon nie die motief vir die aanval wees nie, omdat albei vragmotors staalspoele vervoer het.

“Hulle was nie agter die vrag aan nie. Hulle het nie eens gekyk daarna of gesoek na enigiets om te steel nie. Hulle wou net moor,” sê Ciska, wat Huddlestone Transport saam met haar man besit en bestuur.

Groenewald en Jansen was van Saldanha na Johannesburg onderweg toe hulle aangeval is. Ciska sê nadat die versekering se agente na die vragmotors gekyk het, sal hulle ’n plan maak met die vragte.

Meer oor:  Bernard Groenewald  |  Durban  |  Touwsrivier  |  Vragmotors  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.