Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man wat 81 kg verloor, kry rolletjie by – in sepie

Toe kry Leon (Boetiekie) Hartman, wat tydens die inperking 81 kg afgeskud het, uiteindelik ’n rolletjie in die gewilde kykNET-sepie Suidooster.

Eden Classens, Hannes van Wyk, Leon Hartman, Simone Biscombe en Jawaahier Petersen. Foto: Marzahn Botha

Rapport was Dinsdag vroeg by Atlantic Studios in Montague Gardens in Kaapstad, toe Hartman, ’n administratiewe assistent by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch, sy 60 sekondes van roem beleef het.

Dié koerant het verlede maand berig hoedat die 37-jarige Hartman die skaapskaal op 211 kg laat kreun het. Hy het deur die inperking elke dag kilometers ver begin stap op die plaas waarop die kollege geleë is. Dít, tesame met ’n slim uitgewerkte dieet, het hom gehelp om 81 kg af te skud.

Hartman het gesê hy het twee wense: om ’n paar woorde in die sepie Suidooster te kan sê en om die Noetzie-trappe by Knysna in die Suid-Kaap uit te klim.

Verlede week het sy selfoon gelui.

Hy het sy ‘Lotto’ gewen.

Hartman sê sy bene het skoon “jellie” geword toe hy hoor dis Wilmer Müller, publisiteitsbestuurder by Suidooster, wat bel.

“Ek sit toe die selfoon op speaker sodat my ma kan hoor hier is iemand wat grappies maak.”

Hy het egter gou besef dis die reine waarheid. Hy het sy “Lotto gewen”.

Hy moes Dinsdag om 07:30 by die ateljee wees. Hy het sy woorde gekry en toe is hy gepoeier en gekam.

Hartman het ’n ontevrede klant gespeel wat die kelner Justin Potgieter (gespeel deur Eden Classens) in die Oos Wes-restaurant oor sy koffie konfronteer.

Simone Biscombe (Bianca Fourie) en Jawaahier Petersen (Kaashifa Mansour) verskyn ook in dié toneel.

Die toneel is drie keer geskiet voordat Jessica Kleinhans, vloerbestuurder, “perfek” geroep het.

Hannes van Wyk, die spelvervaardiger, het toe vir Hartman persoonlik op die stel vir sy optrede kom bedank en almal het vir hom hande geklap voordat ’n stralende Hartman saam met sy “medespelers” ’n foto geneem het.

Sy gunsteling-akteurs is Petersen, Jill Levenberg (Mymoena Samsodien) en Denis Newman (Bridgette October).

“Hulle is next level,” sê Hartman.

Volgens Muller het Hartman se storie hulle baie aangeraak. “ ’n Mens kon sien hoe ongelooflik baie dit vir Leon beteken het. Hy is ’n inspirasie vir baie mense daar buite met sy gewigsverlies. Dalk help dit om ander te inspireer om hul drome na te streef.

“Ons het ’n plig om te vermaak, maar ook om terug te gee in ons gemeenskap. Klein gebare maak ’n groot verskil in mense se lewens.”

Die toneel word op Maandag 16 Augustus uitgesaai.

Hartman sê sy hele familie gaan dié dag voor die kassie wees.

“My ma is mos ’n plaastannie, as iets groot gebeur, móét almal weet.”

Nou vir die Noetzie-trappe.

Meer oor:  Suidooster
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.