Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Man wat in water by Kampsbaai verdwyn, is KSUT-student
’n Toeskouer en menseredders op die toneel by Kampsbaai. Foto: Facebook/DHL Clifton Surf Lifesaving Club

Die soektog na ’n 23-jarige man wat Donderdag omstreeks 13:00 in die see by Kampsbaai verdwyn het, duur voort.

Die man is ’n student aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT), het Lauren Kansley, woordvoerder, Vrydag bevestig.

Die universiteit wil nie die student se naam bekend maak totdat hy gevind is nie. Kansley sê die voorval het nie tydens ’n universiteitsgeleentheid gebeur nie.

“Ons inligting is dat hy saam met ’n kerkgroep by die see was,” sê sy.

Dit was ’n baie hartseer dag in Kampsbaai, het Nicola Jowell, raadslid vir die wyk wat van Groenpunt tot Kampsbaai strek, op Facebook gesê.

“Ondanks die heroïese pogings van soveel mense, kon die swemmer nie gevind word nie. Ons gedagtes en meegevoel gaan uit na sy familie, vriende en veral aan sy vriend wat by hom was.”

Jowell wou ook nie meer inligting bekend maak totdat die man gevind is nie, maar het gesê die vermoede is dat die man deur ’n seestroom meegesleur is.

Duikers swem na waar die man onder die water verdwyn het. Foto: Facebook/DHL Clifton Surf Lifesaving Club

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ’n helikopter en ’n boot ingespan om na die 23-jarige, oorspronklik van Gauteng, te soek.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het Vrydag om 16:30 gesê die soektog na die man duur voort. Hy wou nie sê of die man as vermoedelik dood geag word nie.

Die soektog het Donderdag omstreeks 13:00 begin toe hy voor ooggetuies tussen Kampsbaai en Glenstrand onder die water verdwyn het.

“Lede van die NSRI-eenhede in Bakoven en Tafelbaai, asook die Kaapstadse brand-en-reddingsdienste, die polisie en paramedici het aan die soektog deelgeneem,” sê hy.

Volgens Lambinon kon ’n branderplankryer nie daarin slaag om die man te bereik voordat hy onder die water verdwyn het nie.

Duikers het in die omgewing waar hy verdwyn het na hom gesoek, maar ondanks die uitgebreide soektog is geen teken van die vermiste man nog gevind nie. ’n Polisie-duikeenheid sal met die soektog voortgaan, sê hy.

Meer oor:  Nsri  |  Kampsbaai  |  Water  |  Student  |  Swem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.