’n Jong man van Kempton Park, Gauteng, se lyk is Dinsdagoggend in die Vaaldam gevind.
Pieter Wilders het die naweek by sy ouma in Oranjeville in die Vrystaat gaan kuier toe hy Saterdag spoorloos verdwyn het.
Wilders het hier by sy ouma, Alet Joubert, gaan kuier.
Netwerk24 het by ’n bron na aan die familie verneem dat Wilders Saterdagaand babers in die dam wou vang.
“Hy het omstreeks 18:30 met ’n bootjie op die dam gevaar om die visvanglyne in te vat. Hy het ’n baadjie met gewigte gedra en toe vermoedelik oor die kant van die bootjie geval. Die baadjie het hom laat sink,” sê die bron.
Duikers het sedert Sondagoggend onverpoos na Wilders gesoek en volgens die bron is sy lyk Dinsdagoggend gevind.
Brig. Montantsi Makhele, Vrystaatse woordvoerder van die polisie, het bevestig Wilder se lyk is omstreeks 09:30 naby die Magrieta Prinsloo-brug gevind.
’n Polisiebron wat op die toneel was, het ook aan Netwerk24 bevestig dat Wilders se lyk gevind is.
Volgens die bron het Wilders verdrink.
Joubert het Dinsdagoggend gesê sy is nog nie reg om met die media te praat nie.

Daar is talle foto’s soos hierdie van Pieter Wilders wat visvang op sy Facebook-blad. Foto: Facebook/Pieter Wilders