Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mandela-oppasser mor oor Zuma
Simba Ci, die Suid-Afrikaanse kunstenaar wat tans deur Europa toer, bring ‘n paar tradisionele klanke na die Mandeladag in Brummen, Nederland. Foto: Jana Marx

Die chaos onder oudpres. Jacob Zuma se administrasie is nie waarvoor hy in Umkhonto we Sizwe geveg het nie, maar hy het volle vertroue in pres. Cyril Ramaphosa, “wat nie ’n Micky Mouse is nie”.

Só het Sizwe Abrahams, voormalige MK-veteraan en lyfwag van oudpres. Nelson Mandela, Woensdag by ’n Mandela-daggeleentheid in Brummen, Nederland, aan Netwerk24 gesê.

Abrahams was ook in die beskermingseenheid van adj.pres. Thabo Mbeki en Ramaphosa, toe laasgenoemde nog in Grondwetonderhandelinge met Roelf Meyer van die Nasionale Party gewikkel was.

Abrahams, wat die laaste jaar saam met sy vrou in Amsterdam, Nederland woon, kook nou vir ’n lewe. Hy het Nederlanders Woensdag tussen sessies aan biltong, droë vrugte en Suid-Afrikaanse speserye laat proe.

“Ek het Mandela en die adjunkpresidente opgepas, ek was ’n lid van die Skerpioene (voorloper van die Valke) en daarna in misdaadintelligensie, maar hulle wil my nie hier (in Nederland) in die polisie toelaat nie. Nou volg ek my tweede liefde na: kos,” vertel Abrahams.

Hy vertel dat die veiligheidspolisie in 1980 by sy ouers se huis in Kaapstad opgedaag en gesê het as hulle Abrahams in die hande kry, maak hulle hom dood. Hy moes oornag vlug.

Hy is eers na Botswana, maar is weens politieke druk gevra om weer dié land te verlaat. Daarna is Abrahams en nog veterane na Zambië, waar hulle vir sowat agt tot nege jaar militêre opleiding ontvang het.

In 1994 het hulle teruggekeer na ’n nuwe Suid-Afrika en deel geword van die presidensiële beskermingseenheid. “Ons het Mandela al tydens Umkhonto we Sizwe beskerm, en toe weer toe hy president geword het,” sê Abrahams.

’n Wêreldbekerrugbybal wat deur die seëvierende Springbokspan in 2007 en ook deur oud.pres. Nelson Mandela geteken is, is gister by die vieringe in Nederland uitgestal. Foto: Jana Marx

Mandela het ieder en elk gegroet waar hy gegaan het, onthou hy. “Hy het werklik belanggestel in hoe ’n persoon voel. Jy het hom in ’n vertrek gevoel inkom, voor jy hom nog gesien het. Hy het ook gereeld interne konflik tussen wit en swart lyfwagte opgelos.”

Abrahams het vir jare met woede en bitterheid weens apartheid geleef. In 1996 is sy meisie dood in ’n motorongeluk waarin hy ook was. Abrahams sê hy het daarna sy eie lewe probeer neem, en toe “probeer (om) myself dood (te) drink”. “Ek wou sterf en was kwaad vir almal,” sê hy. Die dag toe hy met die polisie koppe stamp het hy besluit om sy lewe reg te ruk en is hy vanjaar al 21 jaar sober. “Jy raak bitter of beter. Ek wou beter word.”

“Mense sê ek’s nou in Holland, my vrou is ’n Hollander en ek mag nie praat oor korrupsie in Suid-Afrika nie. Dis twak! Almal moet praat oor korrupsie!” meen Abrahams.

Ek het saam met pres. Cyril Ramaphosa gewerk en weet waar hy vandaan kom. Hy is nie ’n Mickey Mouse nie.
Sizwe Abrahams - voormalige lyfwag van Nelson Mandela

“Ek dink van my kamerade raak in korrupsie betrokke want hulle wil opmaak vir dit wat hulle verloor het tydens die struggle. Ek het ook eers in 1994 begin om ’n inkomste te verdien, maar ek kan nie opmaak wat ek verloor het nie. Ek moet vandag net doen wat ek kan tot die beste van my vermoë.”

Hy reken dis belangrik om te verstaan waardeur Suid-Afrika is. “Ons moenie Suid-Afrika met Europa vergelyk nie. Europa is 400 jaar oud; Suid-Afrika is 23 jaar oud. Dis belangrik dat ons leer uit die vorige administrasie. Suid-Afrikaners moet hulself herontdek en herorganiseer.”

Abrahams het volle vertroue in Ramaphosa. “Ek het saam met hom gewerk en weet waar hy vandaan kom. Hy is nie ’n Mickey Mouse nie en hy hét geld, so ’n mens hoef nie bekommerd te wees dat daar geld gesteel gaan word nie,” skerts hy.

Hy reken Nederlanders kan by Suid-Afrikaners leer glimlag, dans en braai. “Geld is ook nie alles nie. Hier is baie ongelukkigheid (in Nederland). Ons in Suid-Afrika is armer, maar ons is gelukkig.”

Ander sprekers

Ander sprekers het Frank Rekers, hoof van die 4 Human-leierskapsorganisasie in Nederland en Elsa Lubbe, ’n spreker van Pretoria, ingesluit. “Ek is ’n groot aanhanger van Mandela,” meen Rekers. “Ons kan baie leer uit sy leierskap en vergifnis. Europeërs is baie egosentries. Ons doen dinge met ons koppe, maar in Suid-Afrika doen hulle dit met hul harte.”

Denise Jannah, ’n Nederlandse kunstenaar wat voor Mandela opgetree het, het onder meer ’n gedig deur die digter Louis Leipoldt gesing en die Suid-Afrikaanse kunstenaar Simbarashe Sharandurah wat onder die verhoognaam Simba Ci optree, het die dag met ’n paar tradisionele klanke ingekleur. Die dag is gepas afgesluit met ’n eg-Suid-Afrikaanse braai.


Meer oor:  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Mandeladag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.