Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Mango-passasier pen man vas wat Toks se vrou glo klap
Gary Broomberg. Foto: Facebook/Gary Broomberg

Toe die Johannesburgse sakeman Gary Broomberg op Saterdag 12 Oktober op die Lanseria-lughawe vir sy vlug aanmeld, was al wat hy wou doen om Kaapstad toe te vlieg vir sake.

Hy het nie vir ’n oomblik gedink hy sou op die einste vlug ’n “gewelddadige” mede-passasier soos ’n wafferse polisieman onder bedwang bring nie.

Die “aanrander” het Carol van der Linde, vrou van die oud-Springbok en nou televisie-aanbieder Toks van der Linde, glo ’n “horrible bitch” genoem en haar toe geklap.

Broomberg onthou dit asof dit gister gebeur het.

“Ek het in dieselfde ry as Carol gesit, maar aan die ander kant van die paadjie, in die sitplek teen die paadjie," het hy aan Netwerk24 gesê.

Dit was in die ry langs die vliegtuig se nooduitgang.

Die Mango-vlug, wat volgens hom om 13:00 moes opstyg, was teen daardie tyd glo reeds twee uur vertraag.

“Ek dink hy (die man) het voor die tyd gedrink, want hy was beslis gekletter. Hy het hard gepraat vandat hy by die vliegtuig ingekom het,” beweer Broomberg.

Vandat die man gaan sit het, het hy blykbaar gekla. Broomberg kan nie onthou waaroor nie, maar hy onthou dit was aanhoudend.

“Hy het eers ’n paar rye voor my gesit. Ek het hom dopgehou. Die volgende oomblik staan hy op en skree op die vrou by hom om hom te volg. Hy gaan sit toe so drie rye voor my. Die vrou het baie verleë gelyk,” sê Broomberg.

Na skaars twee minute skuif die man en vrou toe na die twee oop sitplekke langs Van der Linde. Broomberg het oorkant die gang van hom gesit.

Die man was in daardie stadium bloedrooi in sy gesig en het almal om hom uitgedaag.

“Ons was toe reeds deur die veiligheidsinligtingsessie (vir die passasiers langs die nooduitgang). Die vlugpersoneel kon dit nie herhaal nie. Die lugwaardin vra die man en vrou toe om terug te skuif na hul oorspronklike plekke sodat die vliegtuig kan opstyg.”

Dan volg die gebeure soos blyk uit Van der Linde se selfoonvideo en Facebook-inskrywing.

Van der Linde skryf op Facebook die man het gemaak asof hy nie die lugwaardin se Engels verstaan nie.

Hy begin toe sy onderonsie met die lugwaardin verfilm. Kort daarna verfilm hy Van der Linde, wat reeds besig was om hom te verfilm.

Sy verduidelik in ’n Facebook-kommentaar hy “het my begin record toe ek die hostess sê hy kán Engels praat. Ek het dit vir my eie veiligheid en evidence gedoen siende dat hy daarmee begin het.”

Die hele tirade met die lugwaardin het tussen vyf en tien minute geduur, sê Broomberg.

“Die man was in daardie stadium bloedrooi in sy gesig en het almal om hom uitgedaag,” sê hy.

Intussen is besluit om die vliegtuig, wat reeds op die aanloopbaan was, om te draai en die man af te laai.

Hoe beland so ’n ou op ’n vliegtuig? Wat as ek nie daar was om te help nie?

In die video kan gesien word dat die lugwaardin vir die man vra om “te bly sit” en sê hy kan opstaan sodra die vliegtuig tot stilstand kom.

Dit lyk nie asof hy toe al besef het hulle gaan hom aflaai nie, want hy hou aan sê hy “kan nie beweeg” terwyl die vliegtuig beweeg nie en sê hy sal skuif sodra die vliegtuig in die lug is.

“Sy vrou skuif toe terug na hul oorspronklike sitplek,” sê Broomberg.

Toe draai die man na Van der Linde, wat hom steeds verfilm, en sê: “You can take my picture you horrible bitch . . . okay?” Dit is ook vasgelê op video.

Dan lyk dit asof hy haar met sy linkerhand klap. Dit lyk asof hy die selfoon uit haar hand klap, want die video eindig skielik.

Carol van der Linde saam met sakeman Gary Broomberg, wat haar van ’n vermeende aanrander op die vliegtuig gered het. Foto: Facebook/ Carol van der Linde

“Toe gryp ek sy arm en trek hom agteroor. Ek skree toe vir die lugwaardin om die kaptein (van die vlug) te roep,” vertel Broomberg.

Hy sê hy het die man vasgepen en moes in die proses self koes toe die man hom glo probeer bydam.

“Hy was regtig aggressief, maar het na ’n ruk gekalmeer. Hy het ingestem om na sy oorspronklike sitplek terug te skuif. Sy vrou was reeds daar.”

Die polisie het die man en sy vroulike metgesel onder luide applous van die vliegtuig af verwyder.

“Dit was nog ’n uur later,” sê Broomberg.

Die vlug kon uiteindelik ná vier uur vertrek en het volgens hom daardie aand om 19:30 in Kaapstad geland.

Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding.

“Hoe beland so ’n ou op ’n vliegtuig? Wat as ek nie daar was om te help nie?” vra Broomberg.

Sergio dos Santos, Mango-woordvoerder, het Maandag by navraag gesê die lugdiens kan nie op die fyner besonderhede kommentaar lewer nie “omdat dit 'n strafregtelike ondersoek is”.

“Ons het protokol om hierdie tipe situasies te bestuur en ons bemanningslede is behoorlik opgelei om die protokol toe te pas.  Ons wil benadruk dat ons bemanning die regte prosedure gevolg het. Die oomblik toe die bemanningslede van die risiko bewus geword het, is die owerhede in kennis gestel om beheer te neem, soos die prosedure bepaal. Neem asseblief kennis dat die vliegtuig reeds aan die beweeg was en daarom moes dit terugkeer na die terminus, om die owerhede toegang tot die vliegtuig te gee.”

Die man se identiteit is nog nie aan Netwerk24 bekend nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.