Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Marc Batchelor se broer ‘verslae, gebroke’
Marc BatchelorFoto: Gallo Images

“Ek is verslae, gebroke, seer.”

Dit was Dinsdag die woorde van Warren Batchelor, broer van Marc Batchelor, die vermoorde sokkerspeler.

Warren het sy broer se lyk Dinsdag gaan uitken.

Hy sê dat ’n lykskouing nog gedoen moet word.

“Marc sal heel waarskynlik eers volgende week begrawe word.”

Warren sê hy is onmiddellik nadat hy Maandag van die aanval op sy broer gehoor het, na sy huis. Batchelor was egter reeds dood.

Bronne na aan die ondersoek het Dinsdag gesê Batchelor se moordenaars het glo bykans vier uur lank op en af in die straat voor sy huis op hul motorfiets rondgery.

Die bronne het Dinsdag gesê die moord is tipies soos die huurmoorde wat die Serwiese onderwêreld al in Gauteng uitgevoer het.

Batchelor, ’n doelskieter wat  vir Orlando Pirates, Kaizer Chiefs en Mamelodi Sundowns gespeel het, is Maandag kort ná 18:00 in Marketstraat in Olivedale, Fourways, deur onbekende mans op ’n motorfiets in sy wit BMW doodgeskiet. Dit is nog onbekend of daar meer as een motorfiets of meer as twee aanvallers by die moord betrokke was.

Batchelor het volgens bronne in Johannesburg die afgelope paar jaar kredietinvordering gedoen.

Kringtelevisiebeeldmateriaal van ’n winkelsentrum naby Batchelor se huis sowel as van inwoners in Marketstraat, het glo gewys hoe ’n motorfiets op en af in die straat ry.

Een bron sê dat Batchelor se hond, wat ook in die voertuig was, deur sy aanvallers raakgeskiet is. Een van die koeëls wat die hond getref het, is glo by sy long in.

In ’n WhatsApp-boodskap wat Netwerk24 gesien het, bevestig ’n persoon na aan Batchelor dat sy hond ook gewond is. Die hond is glo geopereer, maar die koeël het Dinsdag nog in die hond se long gesit.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het bevestig dat Batchelor se tuinwerker ook in die voertuig was, dat hy ongedeerd is en dat hy reeds ’n verklaring afgelê het.

Die koeëlgate in die motorruit van Marc Batchelor se motor.

Op foto’s van die voertuig waarin Batchelor doodgeskiet is, kan sewe koeëlgate in die venster aan die bestuurderskant gesien word. Minstens vier van die skote is deur Batchelor se linkerskouer. Hy is ook in sy linkerarm gewond.

Die polisie en forensiese deskundiges was laat Maandagaand nog op die toneel waar die oudsokkerspeler Marc Batchelor doodgeskiet is.

Mense wat saam met Batchelor by sy huis in ’n ander voertuig stilgehou het, het na bewering op die aanvallers geskiet. Die polisie kon dié inligting egter nie bevestig nie.

Nafiz Modack, ’n vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, het Batchelor Dinsdag as ’n gesinsman en ’n gerespekteerde sakeman beskryf. Hy sê dat hulle vriende was.

Intussen het verskeie mense met wie Netwerk24 gepraat het, verwys na die moord op George Mihaljevic in September 2018 in Bedfordview, Gauteng. Mihaljevic het glo op ’n tyd noue bande met die Serwiese misdaadbaas Radovan Krejcír gehad.

Hy is in Van Buurenweg, Bedfordview, doodgeskiet waar hy in sy Porsche gery het. Twee motorfietse het langs hom ingetrek en gelyktydig op hom begin skiet. Hy is op die toneel dood.

Mihaljevic het verskeie sakeondernemings in Gauteng – Sandton Gold, Diamond Exchange en Salon Privè – besit.

Daar word geglo dat Krejcír die moord op Mihaljevic gereël het nadat hy in 2013 teen hom getuig het.

Niemand is nog vir Mihaljevic se moord in hegtenis geneem nie.

Die moord op Batchelor herinner ook sterk aan die moord op Cyril Beeka (49) op 21 Maart 2011 naby Belhar in Kaapstad.

Beeka was ’n sakeman wat noue bande met die Nasionale Intelligensieagentskap gehad het. Hy was saam met die Serwiese voortvlugtige Dobrosav Gavric, wat destyds die alias Sasa Kovacevic gebruik het, toe hy dood is.

Die twee was saam by die huis van Jerome (Donkie) Booysen, die vermeende Sexy Boys-bendebaas, in Belhar kort voordat twee mense op ’n motorfiets losgebrand het op die BMW-viertrekvoertuig waarin hulle toe in Modderdamweg gery het.

Beeka is in die bors, arms en kop gewond, terwyl Gavric in die arms gewond is.

Beeka is op die toneel dood. Niemand is ook nog vir sy moord aangekeer nie.

Meer oor:  Marc Batchelor  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.