Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Margot Luyt se lewensmaat in rolstoel verdrink in kanaal

’n Gestremde man, Graham Clarke (60), het in ’n tragiese voorval verdrink toe hy by ’n kanaal in Century City in Kaapstad met sy rolstoel in die water beland het.

Clarke en sy jare lange versorger was Dinsdagmiddag op ’n uitstappie toe die ongeluk gebeur.

Graham Clarke by Margot Luyt en haar kleinseun Stephan Luyt Landman verlede jaar in ’n onderhoud met Rapport. Foto: Edrea du Toit

Hy was die lewensmaat van die radiopersoonlikheid Margot Luyt (71).

Luyt sê Clarke was baie lief vir die natuur en hulle het gereeld na die mooi omgewing by die kanale gegaan. Die versorger, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het vir ’n oomblik omgedraai toe Clarke met sy rolstoel in die water verdwyn.

Clarke was soos altyd vasgegordel aan sy stoel en hoewel sy versorger probeer het om hom uit die water te red, was dit vergeefs.

“Hy was een van die dapperste en eerlikste mense wat ek geken het. Hy het deur onmenslike pyn en lyding gewroeg sedert hy ’n beroerte gehad het,” sê Luyt.

Clarke het meer as 30 jaar gelede ’n beroerte gehad en het sedertdien aan die neurologiese siekte inkluissindroom gely.

Dit het beteken sy hele liggaam het van sy mond af ondertoe glad nie gewerk nie, verduidelik Luyt. Hy het geen motoriese funksies gehad nie. Dus kon sy brein nie die opdrag gee om selfs ’n vinger te roer nie.

Clarke kon sy oë beweeg, sy sintuie was perfek, maar hy kon nie sy spiere gebruik nie. Hy het met ’n spesiale rekenaarstelsel gekommunikeer.

“Hy was nie net ’n inspirasie nie, maar ook my leier. Ek het geweldig op hom staatgemaak,” sê Luyt.

Clarke was ’n langtermyninwoner van die Eric Miles Cheshire-tehuis in Milnerton, waar hy volgens ’n woordvoerder gelief onder personeel en ander inwoners was.

News24 het berig Alet Bosman, hoofbestuurder van die tehuis, sê sy is verpletter oor Clarke se afsterwe. Clarke was 33 jaar ’n inwoner van die tehuis.

Clarke se versorger, wat vir hom soos ’n broer was, is ook erg getraumatiseerd en kry berading.

Luyt sê Clarke het ’n normale lewe gelei en hulle het op plekke soos die Tankwa-Karoo vakansie gehou. Hulle het graag Scrabble gespeel en Clarke het altyd gewen, sê sy.

Daar word nou gewag op sy broer, Justin Clarke, om van Dublin af na Kaapstad te reis voordat begrafnisreëlings getref sal word.

Meer oor:  Graham Clarke  |  Kaapstad  |  Century City  |  Verdrink  |  Fratsongeluk  |  Rolstoel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.