Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Marli is reg vir matriek
Marli van Breda (18)

Ná ’n lekker vakansie in Australië is die 18-jarige Marli van Breda uitgerus en gereed vir haar volgende uitdaging: matriek.

Sy het Woensdag met haar splinternuwe skooljaar aan die Somerset College naby Somerset-Wes begin.

Marli het baie goed herstel van ernstige hoofbeserings in die byna twee jaar sedert sy en haar gesin in hul huis op die De Zalze-gholflandgoed buite Stellenbosch met ’n byl aangeval is.

Haar ouers, Martin (54) en ­Teresa (55), asook haar broer Rudi (22), is op 27 Januarie 2015 vermoor. Marli se nekaar is afgesny en sy was dae lank in ’n kritieke toestand ná die aanval.

Sy het retrograde amnesie weens ’n kapwond aan haar kop.

Henri (22), haar broer, is lig beseer. Hy staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en dwarsboming van die reg.

Adv. Louise Buikman is as Marli se kurator aangestel om besluite oor haar persoonlike sake soos haar terapie en skoollewe in oorleg met haar familie, onderwysers en terapeute te neem en om haar in enige regsgeding te verteenwoordig.

Marli was vyf maande lank in die hospitaal en ’n rehabilitasiesentrum. Haar mediese span het toe aanbeveel dat sy teruggaan skool toe om haar te help om weer by die samelewing in te skakel en haar gewoond te help maak aan die akademiese program.

Sy het by ’n gr. 11-klas by die Somerset College ingeskakel en gespesialiseerde private lesse ontvang om haar te help om die werk in te haal.

Sy het gr. 11 verlede jaar voltooi en het veral goed gevaar in fisika en wiskunde.

Buikman het die afgelope week aan Rapport gesê Marli is “gemotiveerd om haar finale jaar op hoërskool te voltooi. Sy gaan voort om bo verwagting te presteer.”

Buikman het ook bevestig dat die 18-jarige pas van ’n oorsese vakansie teruggekeer het.

“Marli was op vakansie in Australië. Sy sal haar opvoeding in Suid-Afrika voltooi.”

Dit was volgens familievriende die Van Breda-egpaar se wens dat Marli eendag aan die Universiteit Stellenbosch sal studeer, waar haar pa ’n graad in siviele ingenieurswese verwerf het.

Buikman het in Oktober verlede jaar ’n verslag oor Marli se vordering aan die hooggeregshof voorgelê en ook voorstelle oor haar kliënt se opvoeding en die toekoms ingedien.

Dié inligting is vertroulik.

“Ek sal voor die einde van Januarie 2018 weer ’n verslag oor Marli se vordering by die hooggeregshof indien om te bepaal of sy steeds ’n kurator moet hê,” het Buikman toe in ’n verklaring gesê.

Die twee sibbe se uitgawes word gedek deur die Rudell Holdings-trust, wat destyds deur hul pa gestig is. Dit sluit in hul regskoste, mediese uitgawes en opvoeding. Die boedel is nagenoeg R200 miljoen sterk.

Die skoolgeld vir gr. 12 beloop volgens die skool se webtuiste R104 670.

Henri volg ’n eenjaardiplomakursus in kosbereiding en kookkuns aan die Capsicum Culinary Studio in Soutrivier.

Hy sal na verwagting sy kursus in Julie voltooi. Sy kursusgeld beloop sowat R96 000.

Henri het ook in Junie verlede jaar R100 000 vir borgtog betaal ná sy hofverskyning in Stellenbosch.

Marli woon by haar voogde.

  • Sy is op die staat se lys van moontlike getuies en mag nie kontak met haar broer hê nie. Henri se voorverhoor is op 3 Februarie. Die moordverhoor begin op 13 Maart.
Meer oor:  Marli Van Breda  |  Henri Van Breda  |  Bylmoorde  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.