Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Marlu (8) se ‘hartjie is seer’ ná aanval op hoewe

Marlu Coetzee en sy ma, Dehlia, gaan voordat hulle Saterdagaand in hul aangrensende hospitaalbeddens slaap, net gou bid.

“Hy wil vir Liewe Jesus dankie sê dat hulle beskerm is. Hy sê sy hartjie is seer, maar hy is nie kwaad nie,” vertel Dehlia uit die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg.

Dit gaan al beter met Marlu (8) en sy pa, Mario (47), nadat hulle Donderdagoggend ernstig beseer is tydens ’n aanval op Mario se hoewe in die Vyfhoek-omgewing in Potchefstroom.

Marlu Coetzee (8) kort nadat hy Vrydagoggend geopereer is.Foto: Verskaf

Die seuntjie se neusbeen is tydens die aanval gebreek en hy het twee diep snye op sy voorkop opgedoen.

Sy neus is Vrydagoggend tydens ’n operasie met “plaatjies en skroefies” geheg.

Hospitaalpersoneel het ook vir Dehlia ’n bed langs syne gemaak.

Mario het ernstige kopbeserings. Hy was eers in ’n geïnduseerde koma in ’n Potchefstroomse hospitaal.

Volgens Dehlia het hy sowat 10 frakture aan sy gesig, sowel as verskeie kneusings en snye oor sy lyf.

“Maar hy kon gisteraand met besoektyd regop sit en hy het met die kinders oor die foon gepraat,” sê Dehlia.

Mario Coetzee. Foto: Verskaf

Marlu en sy sussie, Marizé (7), het tydens die aanval by hul pa gebly omdat hul ma van ’n rugoperasie herstel.

Mario se ouers, Nellie en Paul Coetzee, bly ook op die hoewe.

Nellie moes self agt steke kry nadat een van die rowers haar oor die kop geslaan het voordat hulle gevlug het.

Dehlia het Saterdagaand gesê Marlu se oë is nog baie toegeswel, maar sy en hy gesels oor wat gebeur het.

“Hy kan steeds nie baie onthou nie. Ons het gepraat, ons het gehuil. Ons vat dit dag vir dag, nee, eintlik oomblik vir oomblik.

“Ek besef daar lê harde werk voor met hom en Sussie. Daar is egter soveel gebede, vanuit Potch, van gebedsgroepe met lede regoor die wêreld, dat ek glo hier gaan positiewe getuienis uit kom.

“Kan jy dink wat kon gebeur het as die Liewe Vader nié vir die kinders, Mario en sy ouers beskerm het nie?

“Ons sal nie dat iets negatiefs hieruit kom nie. Ons sal nie verbitterd raak nie.

“Ons moet besluit: Is jy bitter of beter?” sê Dehlia.

Meer oor:  Marlu Coetzee  |  Potchefstroom  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.