
Marnus Nagel se rugbymaats het rugbyhemde teen die skool se heining gehang, mekaar daarna omhels, gekniel en snikkend gebid. Foto: Felix Dlangamandla
Netwerk24 Felix Dlangamandla
Marnus Nagel (16) se laaste woorde aan sy ouers was dat hy hulle en sy suster, Soné (19), baie lief het.

Daleen Nagel, Marnus se ma, word deur ’n vriendin vertroos. Foto: Felix Dlangamandla
’n Gebroke Daleen Nagel, Marnus se ma, het Sondag gesê haar seun is die oggend omstreeks 01:00 ná ’n geweldige oorlewingstryd in die Unie-hospitaal in Alberton oorlede.
Marnus is die vierde leerling van die Hoërskool Driehoek wat dood is nadat ’n betonblok van ’n loopbrug by die skool in Vanderbijlpark Vrydagoggend uit ’n staalstruktuur losgebreek en op leerlinge geval het.
Roydon Olckers (17), Jandré Steyn (13) en Marli Currie (13) is op die toneel dood.
Marnus is kort ná die ramp eers in ’n ambulans gelaai en daarna per helikopter na die Unie-hospitaal in Alberton gebring. Sy toestand was deurentyd kritiek.
Hy was tot voor sy dood aan ’n ventilator gekoppel en het verskeie operasies en byna 20 bloedoortappings ondergaan.
Daleen het vertel sy en Marnus kon net ’n paar woorde praat toe hy vir ’n ruk in die ambulanswa gelê het.
“Hy het vir my gesê, Mamma, toe ek daar onder die sementblok lê, het ek vir juffrou Sonja Herbst geroep en haar gevra om vir my te bid. Toe sê ek vir haar, as ek doodgaan, moet sy vir julle sê ek het julle baie lief.”
Hy het vir my gesê, Mamma, toe ek daar onder die sementblok lê, het ek vir juffrou Sonja Herbst geroep en haar gevra om vir my te bid. Toe sê ek vir haar, as ek doodgaan, moet sy vir julle sê ek het julle baie lief.

Daleen Nagel, Marnus se ma, word deur ’n vriendin vertroos. Foto: Felix Dlangamandla
Marnus het ook vir haar gesê terwyl hy daar op die stoep vasgekeer gelê het, het hy in die oë van ’n meisie (vermoedelik dié van Marli Currie) gekyk en gesien hoe sy doodgaan.
Sedertdien kon sy nie weer met haar kind praat nie omdat hy die hele tyd onder verdowing in die waakeenheid gehou is. Hy was ook aan ’n ventilator gekoppel.
“Hy was my baba, ’n omgeebeertjie,” het Daleen huilend gesê.
“Ons was Saterdag nog vol hoop dat Marnus sou leef. Hy het immers Vrydagnag oorleef. Ons het gebid dat hy Saterdagnag ook sou oorleef. Dan sou sy kanse om te herstel soveel beter wees.”
Volgens Nagel het die mediese span by die Unie-hospitaal onder die leiding van prof. Jacques Goosen, hoof van die trauma-eenheid, alles gedoen wat hulle kon om Marnus se lewe te probeer red.

Daleen Nagel, Marnus se ma, Sondagoggend by die skool waar Marnus se maats hulde aan hom betoon het. Foto: Felix Dlangamandla
“Prof. Goosen het heeltyd oop kaarte met ons gespeel. Hy het gesê Marnus is verby siek. Hy het ons gewaarsku dat ons dit oomblik vir oomblik moes vat.”

Honderde mense het weer Sondag by die skool opgedaag en blomme neergesit en hulde betoon. Foto: Felix Dlangamandla
Marnus het deurentyd geweldig baie bloed verloor, sy hartklop was die heeltyd baie hoog en daar was ’n moontlikheid dat sy linkerbeen geamputeer sou word. Marnus se bekken was gebreek en hy het inwendig gebloei.
Nagel het gesê ’n vrou van Alberton het haar huis se deure vir die beseerde kinders se ouers oopgegooi.
“Ek het in haar huis naby die hospitaal gebly. Ons het haar Engel Rita genoem.
“Daar was tye dat ons soveel moed geskep het, veral wanneer die kleur in Marnus se wange teruggekom het.”
Sondagoggend omstreeks 01:45 het Dean en Soné haar gebel en gesê hulle jaag nou hospitaal toe. Hulle het ’n oproep van die dokter gekry. Dean en Soné het in Vanderbijlpark agtergebly.
“Ek was binne minute by die hospitaal. Daar het die mense gesê Marnus het ‘‘ ’n hartstilstand gehad”.
“(Prof.) Goosen het kort daarna na my toe gekom en gesê die personeel het ’n uur lank probeer om Marnus se hart weer aan die gang te kry, maar hulle kon niks verder vir hom doen nie.”

Christopher Pistorius, Marnus Nagel se maat, skryf ’n boodskap vir hom op ’n rugbytrui. Foto: Felix Dlangamandla
Marnus se rugbymaats het Sondag om 12:00 almal by die skool bymekaargekom en hul rugbytruie aan die heining gehang. Hulle het later ’n kring gevorm, mekaar omhels, gekniel en snikkend gebid.

Marnus Nagel se rugbymaats het rugbyhemde teen die skool se heining gehang, mekaar daarna omhels, gekniel en snikkend gebid. Foto: FFelix Dlangamandla
Christopher Pistorius (16) sê hy en Marnus was van gr. R af maats. Hulle het later saam rugby gespeel. Marnus was hul span se een stut.
Hy vertel hy en sy maats het Marnus Vrydag onder die rommel probeer uittrek.
“Hy het daar gelê en om hulp geroep. Hy het gesê hy kan nie sy bene voel nie. Ek het sy hand vasgehou en die sement en grond uit sy oë gevryf. Ek het heeltyd vir hom gesê hy moet vasbyt, ons gaan hom binnekort uitkry.
“Ek het vir hom gesê ek gaan gou iets haal om die betonblok van hom af te kry. Ek en van my maats is toe na die netbalveld waar ons die doelpale uit die grond geruk het. Ons het probeer om die betonblok met die pale op te lig, maar dit het gebuig. Toe kom mense met domkragte daaraan en later was daar 'n stootskraper. Toe kon ons Marnus bevry.

Wyle Marnus Nagel. Foto: Verskaf
“Ons is baie hartseer. Marnus was ons groot maat. Hy het byna altyd sy rugbybroek by die huis vergeet, dan moes een van ons vir hom ’n broek leen om in te oefen.”
Van die rugbyseuns vertel Marnus wou baie graag gewig verloor en het sedert die begin van die jaar begin om met sy fiets skool toe te ry. Hy het ook by ’n gimnasium aangesluit.
“Ons gaan hom verskriklik mis.”
Lees ook:
Brugtragedie: So sterk beseerdes aan