Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma’s in trane oor hulp aan hul onderneming

Twee ma’s van Pacaltsdorp in George in die Suid-Kaap wat daagliks wind en weer trotseer om die strate vir herwinbare rommel te fynkam, het in trane uitgebars toe weldoeners hulle Woensdag met ’n splinternuwe sleepwaentjie verras.

Katriena Arries (63) en Natasha October (40) bedryf die afgelope vier maande die onderneming KNP Recycling. Hulle is ook lede van die plaaslike sakekamer, die Pacaltsdorp Community Business Association. Hulle het voorheen self ’n ou waentjie aanmekaargesit wat hulle self deur die strate trek om die rommel te vervoer.

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap (regs), kyk Woensdag toe terwyl Katriena Arries (naaslinks) in trane uitbars oor die vervoerwa vir haar herwinningsonderneming. Links is Natasha October, wat saam met Arries werk, en naasregs is Luwayda Trantraal van die Pacaltsdorp Community Business Association. Foto: Jackie Kruger

Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHi) Wes-Kaap, sê hy was so beïndruk toe hy van die vroue se poging te hore kom en gaan kyk het wat hulle doen, dat hy besluit het om hulle met ’n splinternuwe sleepwa vir hul onderneming te verras. Die projek is in samewerking met die Pacaltsdorp Community Business Association aangepak.

Cilliers en ’n afvaardiging het Woensdag onverwags by die onderneming in New Dawnpark in Pacaltsdorp met die sleepwa, kompleet met die nommerplaat KNP 001, opgedaag. Die vroue het in trane uitgebars.

“Ons het dit glad nie verwag nie,” het hulle later gesê.

Volgens Cilliers wil die AHi kyk hoe hy by gemeenskappe betrokke kan raak en klein ondernemings in die informele sektor kan steun.

Hy het verwys na die gelykenis van die saaier in die Bybel wie se saad op goeie grond geval en ’n goeie oes gelewer het. “Ek het wakker gelê nadat ek gesien het wat julle doen,” het hy aan Arries en October gesê.

Arries het Cilliers-hulle bedank. “Die Here weet wat my hart se begeertes is,” het sy gesê. “Ons is baie bly en gelukkig.”

Volgens Arries was sy aanvanklik huiwerig om by herwinning betrokke te raak. “ ’n Mens kry skaam want ander dink jy krap in die rommel rond.”

Cilliers sê hy hoop die onderneming groei sodat nog sleepwaens bekom en met nommerplate soos KNP 002 of 003 toegerus kan word. ’n Hele paar mense is al by die onderneming in diens.

Katriena Arries en dr. Willie Cilliers van die AHi Wes-Kaap by die nuwe vervoerwa vir Arries se herwinningsonderneming. Foto: Jackie Kruger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.