Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ma’s knak weens inperking

Die druk om van die huis af te werk, kinders se skoolwerk te monitor, te kook en skoon te maak dryf ma’s tot breekpunt, het kenners aan Rapport gesê.

Dr. Erika Hitge, ’n berader in private praktyk, sê al die vroue wat haar spreek omdat hulle oorweldig voel, is professionele mense wat van die huis af werk.

Dié vroue moet ook kleiner kinders vermaak, ouer kinders help met skoolwerk, kos kook en die honde kos gee. Volgens Hitge sê baie van die vroue daar is vir hulle geen verligting nie en wanneer hulle hul mans vra om hulp, is die antwoord: “maar ek moet werk”.

Hitge sê in ’n moderne samelewing was daar nog nooit so ’n groot “teruggryp” na die tradisionele rolle van mans en vroue soos nou met die Covid-19-pandemie nie. Die onsekerheid oor die pandemie skep spanning en angs en mense haal dit tuis op mekaar uit.
Cindy Billson, ’n maatskaplike werker en DA-wyksraadslid in Tshwane, sê sy werk telefonies met kliënte en voer hordes telefoononderhoude per dag met mense wat raadop is weens die pandemie en inperking.

Daar is ’n goue draad wat deur hul klagtes loop. “Hulle het depressie, angs en kan nie  die werklading hanteer nie. Mense gaan hierdeur (die pandemie) soos deur ’n rouproses, maar dit het ’n einde, terwyl hier nie ’n einde in sig is nie. Dis net ’n aanhoudende sirkel. Niemand weet wanneer dit gaan eindig nie.”

’n Groot oorsaak van konflik tussen egpare is of hul kinders moet teruggaan skool toe of nie. “ ’n Pa het aan my gesê hy is bang om sy hoërskoolkind terug skool toe te stuur, want dis sy enigste kind. Dit nadat die pa self breinkanker gehad het en reeds nie op ’n goeie plek is nie,” sê Billson.

’n Vrou wat selfonderhoudend was, het Billson vir kos kom vra vir haar en haar twee kinders. Die skool vereis van die kinders om aanlyn klasse by te woon, maar die ma het nie geld vir internettoegang nie.

Die res van die gesin dink: maar sy is mos nou hier.

Baie mense is skaam om hulp te vra, sê Billson. Sy sê ’n jong vrou wat pas geskei is en nuutgevonde vryheid in haar eie meenthuis gevind het, het huilend vertel haar suster het by haar ingetrek. Die suster het haar werk verloor weens die pandemie.

“Ma’s werk baie langer ure as voorheen. Die res van die gesin dink: maar sy is mos nou hier. Dus meng die res van die gesin in met die ma se professionele werkstyd. Alles is vervleg. Die roetine in die huis is daarmee heen.”

Billson sê mense moet met roetine hul angs beheer. Koshuisreëls behoort in huise te geld, “anders gaan mense mekaar wil doodmaak”.

Riëtte Oosthuizen, ’n gesinsregkenner, sê sy sien die gevolge van die pandemie by kliënte wat by haar aanklop. Haar kollegas vertel vir haar soortgelyke verhale. “Met die pandemie bereik vreemde dinge ons ore,” sê sy.

“Daar is uitgeputte mammas wat net smeek om ’n naweek af te kry.”

Gesinsgeweld neem toe. “Selfs by sommige paartjies in wie se verhoudings daar vantevore nooit enige gesinsgeweld was nie,” sê Oosthuizen. “Buite-egtelike verhoudings is nie noodwendig gedurende die staat van inperking gestaak nie en in sommige gevalle het buite-egtelike verhoudings juis ontstaan. Mense doen vreemde dinge as hulle ingehok word en in landgoedere of komplekse woon.”
Konflik oor kinders en veral oor geskeide ouers se kontakregte oor kinders het toegeneem. “In sommige gevalle wou pa’s vergeefs hul kinders sien tydens die inperking, selfs ná die minister se verslapping van die aanvanklike regulasies. Party ouers het gesukkel met elektroniese kontak met hul kinders tydens die inperking.”

Oosthuizen sê sy vermoed die statistieke gaan volgende jaar dié tyd ’n hoër egskeidingsyfer toon.

Meer oor:  Cindy Billson  |  Erika Hitge  |  Gesinne  |  Kinders  |  Egskeiding  |  Covid-19  |  Moederskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.