Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matie ingenieurstudente gaan slag wys op SA Agulhas II

Vier ingenieurstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag vanaf Kaapstad na die poolstreek vertrek om navorsing van Suid-Afrika se poolnavorsingskip, die SA Agulhas II voort te sit.

Dié skip word deur die departement van omgewingsake bestuur en word vir navorsingsdoeleindes gebruik en om voorraad na Gougheiland, Marioneiland en die Suid-Afrikaanse basis in Antarktika te neem.

Die vier ingenieurstudente van die Universiteit Stellenbosch wat navorsing oor die SA Agulhas II sal doen, is Armand van Zuydam, Jesslyn Bossau, Nicole Taylor en Martinique Engelbrecht. Foto: US

Die vier ingenieurs is reeds sedert 2012 betrokke met navorsing oor die skip.

Armand van Zuydam van Oos-Londen, Nicole Taylor van Stellenbosch, Martinique Engelbrecht van Concordia in die Noord-Kaap en Jesslyn Bossau van Windhoek in Namibië gaan vanjaar die navorsing op die drie weke lange reis voorsit.

Hulle is almal besig is met meestersgraadstudies in meganiese of megatroniese ingenieurswese, sê Martin Viljoen, US-woordvoerder, in ’n verklaring.

Hul studies staan onder leiding van prof. Annie Bekker.

Viljoen sê hul missie is om vas te stel hoe die staalstruktuur van die skip reageer as dit deur golwe geslaan word terwyl dit na die ysiger poolstreek vaar, en hoe passasiers die vibrasies en opwekking ervaar wat deur die golwe en enjins veroorsaak word.

Hulle kyk ook hoe die ys en water waardeur die skip suidwaarts beur moontlik die vaartuig se skagte en skeepskroewe kan verwring

“In die nuwe era van data en die vierde nywerheidsrevolusie verkry ons nie net deur hierdie metings terugskouende inligting nie. Ons wil ook die data kan gebruik om vorentoe te kyk, en te gebruik in die ontwikkeling van stelsels waarmee die reaksie van skepe en mense wat daarop saamreis gemonitor en voorspel kan word,” sê Bekker in die verklaring.

Volgens Viljoen het Bekker se navorsingsgroep reeds die afgelope paar jaar aspekte gemeet soos die druk van die ys op die skip se struktuur, en die gevolglike invloed op die skip se romp- en aandryfstelsel.

Hulle het ook die vlakke van onderwatergeraas gemeet, vibrasies en geraas wat beweging deur ys tot gevolg het, en wat deur mense aangevoel kan word, asook meganiese eienskappe van pakys.

Engelbrecht, ’n lid van die Maties se vroue krieketspan, hoop daar sal ’n tydjie wees op die sport aan boord te speel.

Vir Taylor lê die reis baie na aan die hart omdat haar oupa, Constant McLachlan, ’n gereelde passasier aan boord van die SA Agulhas II se voorganger (SA Agulhas I) was toe hy instandhoudings- en konstruksiewerk op Suid-Afrikaanse navorsingseilande en Antarktika gaan doen het.

Haar navorsing sluit opnames in om vas te stel hoe bemanningslede en passasies die voortdurende beweging en vibrasies van die skip ervaar onder die verskillende weer-en golftoestande.

Bossau gaan gedurende die reis eerstehands branderklap of “wave slamming” ervaar. Dit verwys na hoe ’n skip terugval in die water as dit deur of oor ’n golf beweeg.

Sy het dit al vir ’n geruime tyd bloot akademiese bestudeer, sê Viljoen.

Van Zuydam bou op sy beurt ’n skaalmodel van die SA Agulhas II, sê Viljoen.

Volgens hom sal dit uiteindelik getoets word in ’n spesiale watergevulde tenk by die US waarin golwe kunsmatig geskep kan word.

Die skaalmodel en spesifieke rekenaarprogrammatuur wat ontwikkel word, sal gebruik word om te simuleer hoe die skip sal reageer wanneer dit deur verskillende groottes golwe beweeg en verskillende vragladings dra.

Engelbrecht gaan wiskundige modelle ontwikkel om vas te stel hoe gemaklik mense aan boord van ’n skip is, en hoe moeilik of maklik verskillende groottes golwe en weerstoestande dit vir hulle maak om voort te gaan met hul gewone bedrywighede.

Engelbrecht, ’n lid van die Maties se vroue krieketspan, hoop daar sal ’n tydjie wees op die sport aan boord te speel. “Hopelik sal ek een van die min mense wees wat kan sê dat hulle al krieket in die middel van die Suidelike Oseaan gespeel het!” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.