Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matie probeer glo drinkrekord breek voor hy sterf

Die Matie wat Vrydag dood is, het glo Woensdagaand probeer om ’n drinkrekord in sy universiteitskoshuis se kroeg te verbeter, en het na bewering vier glase van ’n alkoholiese mengsel agtereenvolgens gedrink.

Leandró Hopley (18) is later die aand in sy kamer gekry waar hy gebraak het en waarskynlik daarin verstik het. Hy is na Stellenbosch se provinsiale hospitaal gehaas, waar hy ure later breindood verklaar is. Hy het gesterf nadat die lewensondersteuningmasjien Vrydag afgeskakel is.

Leandró Hopley (18)Foto: Facebook

Martin Viljoen, woordvoerder van die Universiteit Stellenbosch (US), het Maandag gesê die US is nie bewus van enige drinkkompetisie in die koshuis se kroeg nie. Louis du Plessis, die koshuis se onderprimarius, het ook Maandag gesê hy gaan geen kommentaar lewer nie, en het alle vrae na Viljoen verwys.

“Dit is moontlik dat daar ’n informele rekord tussen die studente opgestel is. Soos daar in die res van die land kompetisies tussen mense is, is daar ook tussen studente,” het Pieter Kloppers, hoof van studentegemeenskappe by die US, Sondag gesê.

Kloppers het gesê die US is steeds besig om inligting in te samel oor wat Woensdagaand gebeur het, waarna besluit sal word of verdere ondersoek ingestel gaan word.

Dit is nie bekend waaruit die alkoholiese mengsel bestaan het nie, maar Netwerk24 het Dinsdag ’n stemboodskap ontvang waarin ’n student die gebeure van die aand aan ’n vriend vertel.

Volgens die vrou wou Leandró vyf glase van ’n mengsel drink wat glo bekend staan as die “Kingfisher”, wat genoem is na die koshuiskroeg waar Leandró en ander vriende gekuier het.

Leandró kon glo net vier “Kingfishers” afsluk voordat hy begin sleg voel het. Sy vriende het hom glo vroegaand na sy kamer gehelp.

Ure later was dit glo ’n lid van die huiskomitee (HK) wat hom in sy kamer gekry het. Volgens verskeie bronne het Leandró op sy maag gelê toe hy gevind is, en nie op sy rug soos vroeër berig nie.

Hy is daarna hospitaal toe geneem, maar dit was te laat. Hy was reeds breindood nadat hy aan sy braaksel verstik het.

SW Malan, ook ’n student aan die US, sê hy en Leandró was baie goeie vriende, en Leandró was nie die tipe mens wat noodwendig baie gedrink het nie.

“Hy was meer die tipe ou wat ’n bier saam met vriende om ’n tafel sou geniet. Ons sou sit aan ’n tafel van vier, en dan sou daar later 12 mense by ons sit,” sê Malan, wat ook saam met Leandró aan die Hugenote Hoërskool in Wellington gematrikuleer het.

Ek dink hulle kon dit beter gehanteer het. Hulle kon hom in ’n stort gaan sit het, of êrens in ’n badkamer. Of hulle kon hom regop laat sit het met ’n emmer langs sy bed.

“Maar hy was altyd reg vir ’n uitdaging – hy is van die Weskus.”

Malan is ontsteld dat die ander studente in die koshuis nie sy goeie vriend gouer gehelp het nie.

“Ek dink hulle kon dit beter gehanteer het. Hulle kon hom in ’n stort gaan sit het, of êrens in ’n badkamer. Of hulle kon hom regop laat sit het met ’n emmer langs sy bed,” sê Malan. “Hulle moes hom nie gelos het nie.”

Malan was Donderdag en Vrydag langs sy vriend se hospitaalbed, en sê hy het erg gesukkel om Leandró te groet toe dit tyd word.

“Ek was vier keer by hom, maar elke keer het ek net gevoel ek het nie genoeg gesê nie. Ek het vir hom gesê hy sal altyd my beste pel bly, en ek is lief vir hom,” sê ’n hartseer Malan.

Charl Hopley, Leandró se pa, het Maandag gesê hulle het nog geen verdere inligting ontvang oor wat Woensdagaand in die koshuis gebeur het nie.

Hy het ook gesê hy deel nie Malan se gevoel dat die ander studente meer moes gedoen het om Leandró vroeër te help nie. 

Volgens hom sal ’n gedenkdiens op Saterdag 3 Augustus om 11:00 in die Kruiskerk in Stellenbosch gehou word.

Meer oor:  Leandró Hopley  |  Matie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.