’n Student aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat Donderdagaand as vermis aangemeld is, se lyk is Vrydagoggend in die omgewing van die Stellenboschberg gevind.
Matthew Williams (20), ’n onderwysstudent in sy derde jaar, se lyk is deur ’n soekgeselskap wat deur Wildernis Soek-en-Redding (WSAR) gelei is, gevind, sê Johann Marais van WSAR.

Matthew Williams (20)
“Ons het omstreeks 01:00 Vrydagoggend gehoor dat hy dalk op dié berg is.”
Marais sê Williams het ’n opsporingtoepassing op sy selfoon gehad wat die plek waar hy hom bevind na sy rekenaar gestuur het. “Deur die toepassing het ons sy liggaam gevind.”
Williams is Donderdagaand omstreeks 20:00 laas deur sy kamermaat lewend gesien.
Volgens Marais bestaan die moontlikheid dat Williams sy eie lewe geneem het.
Martin Viljoen, ’n woordvoerder van die US, het ook gesê daar word geen misdaad vermoed nie.
“Die bestuur van die US het vanoggend met skok en spyt verneem van die afsterwe van Williams. Die student is gister as vermis aangemeld en die kampussekuriteit het die polisie in ’n soektog na die hom bygestaan. Sy liggaam is vanoggend (Vrydag) in die omgewing van die Stellenboschberg agter die Coetzenburg-sportterrein gevind.”
Volgens Viljoen is die krisisdiens van die sentrum vir studentevoorligting en -ontwikkeling beskikbaar vir vriende en klasmaats van Williams wat ondersteuning en berading benodig.
’n Senior direkteur van studentesake, dr. Birgit Schreiber, sê die dood van ’n student kom altyd as ’n groot skok vir die instelling. “Ons innige meegevoel gaan aan die familie in hierdie baie moeilike tyd.”
Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 20-jarige man se lyk wel gevind is. “Ons het ’n nadoodse ondersoek geopen.”