Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matie-student: Broer verbreek familie se stilte ná val

Familie en vriende van Taylië Chamondré Jaap sorg dat sy nooit alleen is tydens besoektyd nie en neem elke aand hande om haar bed om vir haar te bid.

Jaap (19), ’n BSc-student in haar eerste jaar aan die Universiteit Stellenbosch (US), het sowat twee weke gelede onder onbekende omstandighede twee verdiepings ver uit die Serruria-koshuisgebou geval.

Taylië Chamondré Jaap Foto: Instagram

Sy was bewusteloos toe sy in die hoësorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal opgeneem is.

Jaap, wat haar arm gebreek en ’n kopbesering opgedoen het, is steeds in die hospitaal en is tans in ’n stabiele toestand.

Een van haar broers het die familie se stilte teenoor die media verbreek en sê sy hoes baie en ervaar steeds pyn. Volgens hom mag sy net vloeistowwe inneem.

“Dit is vir ons nog baie rou en tragies, ons probeer nog alles verwerk. Ons vat dit dag vir dag,” sê die broer.

Sy naam word nie bekend gemaak nie omdat die familie steeds nie wil hê dat enigeen met die media praat nie.

“Sy sterk aan, sy is stabiel en goed besig om te herstel. Haar gesondheid is nou vir ons baie belangrik,” sê hy.

Jaap woon by haar oom, Hein Leonard en sy vrou, Charmaine, in Lambertsbaai aan die Weskus. Hulle is haar voogde ná haar ma se afsterwe ’n paar jaar gelede.

Haar hospitaalkamer is vol word-gou-gesond-kaartjies. Die verpleegpersoneel ontferm hulle ook oor haar.

Die hospitaalkamer waarin Jaap lê. Haar familie wou haar nie laat afneem nie. Foto: Brandon Nel

“Sy kan glimlag, en dit stel ons gerus,” sê ’n familie-vriend.

John Stewe, skoolhoof van Schoonspruit Secondary School in Malmesbury waar Jaap gematrikuleer het, sê 1 000 mense – van skool- en koshuispersoneel, leerlinge tot gemeenskapslede – het kort ná die voorval ’n gebedsketting gevorm en vir haar gebid.

Jaap was ’n uitblinker-leerling en hoofmeisie van die skool.

“Sy is ’n vegter, sy sal dit oorwin, sy is ’n engelkind en ’n voorbeeld vir talle,” sê Stewe.

Die skool is nog geskok en geloof is al wat hulle dra, sê hy.

Volgens Stewe was Jaap in gr. 11 net ses maande in die skool toe sy as hoofmeisie verkies is.

“Sy is ’n uitstekende spreker, haar persoonlikheid kon ’n saal vol mense lewe gee,” sê hy.

Volgens Stewe was sy onder die toppresteerders wat altyd volpunte vir Afrikaans-mondeling gekry het. Sy het ook in netbal en toneelspel uitgeblink.

Die Serruria-koshuiskamer waaruit Jaap twee weke gelede geval het Foto: Argief

“Die universiteit gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer oor die omstandighede rakende die voorval nie, maar gee sy volle samewerking aan die polisie in hul ondersoek,” het Martin Viljoen, woordvoerder van die US, by navraag gesê.

Die voorval word deur die polisie en die US ondersoek.

Gerugte dat drank ’n rol gespeel het, kan nie bevestig word nie.

Die familie is dankbaar vir die publiek se gebede en belangstelling, maar vra dat hul privaatheid gerespekteer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.