Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Matie-tragedie: Dood ná drankparty

’n Bottel whisky het agtergebly op die tafel langs ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch se bed nadat reddingswerkers hom Woensdagnag hospitaal toe gevat het. Dit het oorgebly ná ’n koshuispartytjie waar die drank gevloei het.

Leandró Hopley skryf op Instagram in Maart: “To the good times, the bad times and the flippen lekker times.” Foto: Instagram

Leandró Hopley is reeds vroegaand na sy kamer op die derde verdieping gehelp. Hy het daar vermoedelik opgegooi en verstik.

Hy is die volgende oggend dood.

Dié partytjie, in Huis Visser se klubhuis, King Fisher, word elke jaar gehou met die aanbreek van die derde kwartaal en van wat studente op die dorp die Silly Season noem. Dis tradisie dat studente in dié week in die dorp se watergate uithang en die koshuise hou “Storm en Druis”-weke met huisdanse en teater- en musiekfeeste.

'Nee, hoe gaan dit my kind terugbring?’

By Huis Visser was dit ook Woensdag die eerste keer dat die eerstejaars in die koshuiskroeg toegelaat is. Die vroulike inwoners van die Isa Carstens Academy se koshuis is ook na die partytjie genooi.

Elke eerstejaar het ’n gratis verwelkomingsdrankie gekry, óf ’n koeldrank óf ’n alkoholiese pons.

Huis Visser se primarius, Stefan Janse van Vuuren, het Saterda gesê hy is nie seker hoe laat Leandró kamer toe is nie, maar iemand het gereeld, elke 45 minute of elke uur, gaan “op-check” op hom.

Huis Visser Foto: Dennis Delport

Omstreeks 23:30 het die huiskomiteelid wat in die kamer oorkant hom bly, gesien iets skort. Hy het Werner de Wit, die inwonende koshuishoof, en die nooddienste ontbied.

Leandró het op sy rug gelê, sy lippe al potblou.

Paramedici het sy lugweg skoon gesuig en 40 minute lank gesukkel om sy hart aan die gang te kry.

Hy is na die staatshospitaal baie naby aan die koshuis gebring en later oorgeplaas na ’n private hospitaal, maar hy was breindood.

Donderdagoggend om 7:40 is Huis Visser se studente byeengeroep en ingelig dat hy nie gered kon word nie. ’n Paar uur later is die lewensondersteunende masjiene afgeskakel.

’n Kamer soortgelyk as dié van Leandró in Huis Visser. Foto: Dennis Delport

De Wit, wat die hele nag by Leandró se hospitaalbed gewaak het, sê hy weet nie of daar ’n bottel drank in die kamer was nie, want sy aandag was gefokus op Leandró.

“Indien wel, is dit nie ’n probleem nie, almal is volwassenes en mag alkohol besit.

“Dit was vir almal ’n baie traumatiese ervaring. Ek het Leandró en sy familie en vriende, probeer bystaan.”

Leandró se pa, Charl Hopley, sê hy en sy vrou, Suzette, wil beslis nie verder ondersoek instel na die aand se gebeure nie.

“Nee, hoe gaan dit my kind terugbring? Ons kind leef in ons harte voort. Hy dans saam met die engele.”

Hopley het aan Netwerk24 gesê hy is kwaad, maar hy het niemand om voor kwaad te wees nie. “Dit is ’n bitter ongelukkige ding wat gebeur het.”

Rapport verneem benewens die pons het van die studente ook sterk drank gedrink by die partytjie. Eerstejaars soos Leandró mag alkohol in die koshuis gebruik nadat die eerste tien dae van oriëntering aan die begin van die jaar verby is.

’n Primarius by een van die koshuise, wat verkies dat sy naam nie genoem word nie, het aan Rapport gesê hy het gehoor dat Leandró ’n “drink-rekord wou breek”. Maar Janse van Vuuren sê hy weet niks daarvan nie.

“Daar is geen so ’n ‘rekord’ in Huis Visser nie. Ongelukkig weet ek nie wat sy intensies ten opsigte van drankverbruik vir die aand was nie. Niemand het op die aand drinking games gespeel nie,” sê hy.

Hy sê Huis Visser is ’n groot koshuis en die studente word nie heeltyd dopgehou nie.

“So, ek weet nie wie se bottel whisky in Leandró se kamer was nie. Elke persoon het sy eie kamer en kamermaat, en hulle mag drank besit.”

Hy sê Huis Visser het nie ’n dranklisensie nie, maar studente kan hul eie drank bring om in die kroegyskaste te bêre en daar te geniet. Die enigste koshuis wat nog ’n dranklisensie het, en waar drank dus verkoop mag word, is Simonsberg.

Die huiskomitee het dié aand by die partytjie toesig gehou.

Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, sê die presiese omstandighede wat tot Leandró se mediese krisis gelei het, is onduidelik en bespiegelinge daaroor help nie.

Hy sê die universiteit hou deur die jaar gesprekke en opleiding oor die verloop van geleenthede soos tydens die Silly Season.

Leandró het gestudeer vir ’n B.Com-graad in bestuurswetenskappe en inligtingstelsels. Sy ouer broer, John, studeer ook op Maties. Hul pa is die bestuurder van ’n gastehuis naby Vredenburg aan die Weskus.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.